Nuus 09:00
BULLETIN 3 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Suid-Afrika sal nou die gevolge dra van beledigings teen een van sy grootste handelsvennote
# TLU SA prys die polisie en gemeenskappe ná arrestasies in boerderygemeenskappe
# En ondersoekers sê die Amerikaanse Learjet 60 het moontlik opgebreek voordat dit neergestort het
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa en die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, moet die skuld dra vir Suid-Afrika se uitsluiting van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die VSA sal Suid-Afrika en Rwanda volgende jaar van die groot belastingvrye handelsooreenkoms tussen Afrika en die VSA uitsluit, weens strydighede met die ooreenkoms se geskiktheidskriteria. Die VF sê wanneer ‘n land voortgaan om een van sy grootste handelsvennote te vervreem en te beledig maar sy vyande omhels, ten spyte van duidelike waarskuwings uit verskeie oorde, moet hy die gevolge verwag.
Die vakverbond COSATU sê intussen hy is diep bekommerd oor die uitwerking wat Suid-Afrika se verwydering uit AGOA gaan hê op duisende werksgeleenthede wat met landbou en vervaardiging verband hou. Die land word uitgesluit oor onder meer struikelblokke wat Amerikaanse handel en belegging ondermyn en ‘n bedreiging inhou vir Amerika se nasionale veiligheid en belange rondom buitelandse beleid in die streek. COSATU-woordvoerder, Matthew Parks, reken sowat tien-duisend werksgeleenthede gaan deur AGOA-uitsluiting geraak word:
# TLU SA sê samewerking tussen die polisie en boerderygemeenskappe is die sleutel tot die bekamping van misdaad op die platteland. Die landbou-organisasie verwelkom die arrestasie van verdagtes ná gewelddadige aanvalle in die boerderygemeenskappe van Sannieshof en Ventersdorp in Noordwes. Bennie van Zyl van TLU SA sê die inhegtenisnemings toon die waarde van spoedige polisie-optrede, deeglike ondersoeke en samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassingsinstansies. Hy het ‘n beroep gedoen op voortgesette betrokkenheid deur die gemeenskap om misdaad aan te meld en polisie-ondersoeke te ondersteun:
# Amerika se Nasionale Vervoer-veiligheidsraad sê daar is bewyse dat die vliegtuig wat Sondag in Florida neergestort het, moontlik in die lug al begin opbreek het voor dit neergestort en ontplof het. Nege mense aan boord van die Learjet 60, wat van Austin, Texas, na die Bahamas op pad was, is dood. ʼn Tegniese ingenieur en sy jong gesin, asook die 20-jarige medevlieënier, is in die voorval dood. ʼn Lid van die veiligheidsraad, Tom Chapman, sê weerstoestande kon ook ʼn rol in die ongeluk gespeel het:
# Motorsport: George Russell het erken sy uitdagings tydens die 2026 Formule 1-seisoen, was ongelooflik moeilik om te hanteer. Die Mercedes-renjaer het Maandag ’n openhartige verklaring op sosiale media geplaas, minder as 24 uur nadat sy spanmaat, Kimi Antonelli, tydens Sondag se Grand Prix in Meksikostad sy eerste wêreldkampioenskapstitel vir renjaers behaal het. Russell, wat vanjaar drie wedrenne gewen het teenoor Antonelli se nege, sê hoewel dit ’n uitdaging was om homself week na week weer reg te ruk, het hy sy absolute beste vir die span gegee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-752-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-926-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….