Nuus 07:00
BULLETIN 3 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA beoog om Suid-Afrika en Rwanda se kwalifisering vir AGOA vanaf 2027 te beëindig
# ‘n UNESCO-verslag bevind dat ses uit elke sewe moorde op joernaliste ongestraf bly
# En rugby: Erasmus kondig ‘n ervare span aan vir die Nasies-kampioenskap-kragmeting teen Italië
# Amerika beplan om Suid-Afrika en Rwanda van Januarie 2027 af belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark volgens die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te weier. Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, sê president Donald Trump het bevind albei lande se regerings oortree AGOA-vereistes. Hy noem struikelblokke wat handel en beleggings betref, korrupsie en kommer oor nasionale veiligheid. Suid-Afrika trek die meeste voordeel uit die skema met 54-persent van alle AGOA-verwante uitvoere na Amerika. Tussen 2019 en 2024 is sowat 300-miljard-rand se goedere uitgevoer.
Die DA sê intussen Suid-Afrika se uitsluiting as bevoordeelde van AGOA kon vermy word en is totaal onnodig in die konteks van gesonde ekonomiese diplomasie en onderhandeling. Ryan Smith van die DA sê die land se uitsluiting van AGOA is ‘n slag vir die ekonomie, veral landbou en verwerking van landbouprodukte, voertuigvervaardiging en die mynbedryf:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging doen ‘n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag om bates wat met die Bosasa-korrupsieskandaal verband hou, insluitend dié wat in die buiteland gehou word, op te spoor. Dit volg na ‘n bevel deur die Hooggeregshof in Pretoria wat ‘n voormalige Bosasa-bestuurder, Angelo Agrizzi, gelas om 1,6-miljard-rand aan die staat terug te betaal. Die woordvoerder van MISA, Phakamile Hlubi-Majola sê almal wat omkoopgeld ontvang het of daaruit voordeel getrek het, moet ook verantwoordelik gehou word:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê Gauteng se waterkrisis word veroorsaak deur stelseltekortkominge eerder as ‘n watertekort. Die kommissie se ondersoeke het aan die lig gebring die watervoorsiening word beïnvloed deur verouderde infrastruktuur, hoë waterverliese, swak instandhouding, kragonderbrekings, asook onvoldoende bergings- en pompkapasiteit. Die kommissaris, Henk Boshoff, het aan die media gesê die regering en munisipaliteite moet praktiese stappe doen om die probleme reg te stel en toesien dat gemeenskappe betroubare watervoorsiening het:
# Volgens ʼn UNESCO-verslag het straffeloosheid vir moorde op joernaliste vir die eerste keer in meer as ‘n dekade wêreldwyd toegeneem. Tussen 2006 en 2025 is meer as een-duisend-600 joernaliste reg oor die wêreld vermoor, en in byna ses uit sewe gevalle is niemand aanspreeklik gehou nie. In 2024 en 2025 alleen is 189 joernaliste dood in gewelddadige aanvalle waarvan 67-persent in konflik-sones was. Vyftig van hulle is in ses oorlogsgebiede in hommeltuigaanvalle dood. Arabiese state het die grootste getal geverifieerde gevalle aangemeld.
# Rugby: Die slot Salmaan Moerat maak sy eerste verskyning vir die Springbokke vanjaar in Saterdag se Nasies-kampioenskap-kragmeting teen Italië in Turyn, met Ruan Nortjé aan sy sy. Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit en kaptein Siya Kolisi is die drie losvoorspelers, met Thomas du Toit, Malcolm Marx en Ox Nche in die voorry. In die agterlyn sluit Morné van den Berg en Sacha Feinberg-Mngomezulu by die ervare Damian de Allende en Jesse Kriel aan. Die ander agterspelers is Ethan Hooker, Kurt-Lee Arendse en Damian Willemse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-978-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-943-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….