Nuus 17:00
BULLETIN 2 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir gemeenskapsgerigte leierskap voor die verkiesing
# Die voormalige Bosasa-bedryfshoof, Angelo Agrizzi, is gelas om 1,66-miljard-rand verbind met DIE Bosasa-korrupsieskandaal aan die staat te betaal
# En, Iranse onderhandelaars verlaat Doha terwyl ‘n konsepvoorstel vir ‘n vredesooreenkoms versprei word
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van die komende munisipale verkiesing om Suid-Afrika se demokrasie te versterk. Ramaphosa het tydens ‘n besoek aan die Premier-sokkerliga-kantore in Johannesburg oor die toenemende aantal politieke partye gepraat, met meer as 540 op die OVK se databasis. Hy sê die herstel van openbare vertroue vereis leierskap wat gemeenskappe voorop stel. Ramaphosa moedig politieke partye aan om die belange van inwoners bo dié van individuele leiers te plaas:
Intussen het die Universiteit van die Wes-Kaap kommer uitgespreek oor die toenemende voorkoms van politieke geweld in Suid-Afrika voor die munisipale verkiesing. Volgens die polisie is 45 politieke aanvalle tussen Januarie en September aangeteken en minstens 43 mense is dood. Nog nege polities-verwante moorde is in Oktober aangemeld. Woordvoerder Lisa Thompson sê die syfers is die hoogste nóg en dui aan politieke geweld is besig om ‘n gevestigde kenmerk van Suid-Afrikaanse politiek te word:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het gelas die voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi, moet meer as 1,6-miljard-rand aan die staat terugbetaal in verband met onwettige voordele weens Bosasa se korrupte bedrywighede. Agrizzi is verlede jaar skuldig bevind op drie aanklagte van korrupsie en een van geldwassery vir sy rol in ‘n korrupsienetwerk wat regeringskontrakte deur omkopery bekom het. Regter Mokhina Mosopa het bevind Agrizzi het voordeel getrek uit die onderneming se omkoperynetwerk en versuim om sy bates, insluitend eiendomme in Suid-Afrika en Italië, volledig te openbaar.
# Iranse onderhandelaars het samesprekings met Katarse bemiddelaars in Doha laat vaar terwyl diplomatieke pogings voortduur om die oorlog met Amerika te beëindig. ‘n Amptenaar sê die afvaardiging het nie vertrek oor probleme met die onderhandelings nie. ‘n Konsepooreenkoms word tans vir kommentaar versprei en nog ‘n vergadering bly moontlik. Iran sê sy sewe-stap-plan sluit die heropening van die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes en die beëindiging van die Amerikaanse vlootversperring in. Teheran sê die seestraat sal nie heropen word voordat daar nie aan sy eise voldoen is nie.
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Juan Carlos Ferrero, het by Ben Shelton se kamp aangesluit nadat hy voorheen sy Spaanse landgenoot, Carlos Alcaraz, en die Duitser Alexander Zverev afgerig het. Die 24-jarige Amerikaner is tans vierde op die wêreldranglys. Die 46-jarige Ferrero het Alcaraz in 2019 op 16-jarige ouderdeom begin afrig en tot verlede jaar gehelp om twee Franse Ope-, twee Wimbledon-, twee Amerikaanse Ope en agt Meesters-Eenduisend-titels te verower. Shelton het Alcaraz in die kwarteindronde van vanjaar se Amerikaanse Ope geklop voor hy in die eindstryd teen Zverev verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-669-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-899-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 112-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….