Nuus 15:00
BULLETIN 2 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê veiligheidsmaatreëls is noodsaaklik vir ‘n vreedsame verkiesing
# Rugby: Die Springbokke kom in Turyn aan vir Saterdag se toets teen die Azzurri
# En Noord-Korea bevorder ‘n oplewing in braairestaurante ondanks wydverspreide voedseltekorte
# Die politieke ontleder Susan Booysen sê streng veiligheidsmaatreëls is noodsaaklik vir ‘n vreedsame en geloofwaardige munisipale verkiesing. Spesiale stemme word vandag en môre uitgebring voor Woensdag se hoofstemdag. Die Nasionale Gesamentlike Bedryfs- en Intelligensiestruktuur sê hy monitor politieke geweld, betogings en ander moontlike bedreigings, en waarsku dat geweld, intimidasie en wetteloosheid nie geduld sal word nie. Booysen sê die owerhede moet kiesers verseker dat bedreigings ernstig opgeneem word en dat wetlike prosesse gevolg word.
Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, prys intussen die regverdige verkiesingsdekking. Hy waarsku egter teen toenemende pogings om die openbare mening te beïnvloed. Hy het in die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum die verspreiding van waninligting en kunsmatig-geskepte inhoud veroordeel en waarsku dit kan verkiesingsuitslae beïnvloed. Malatsi sê instellings moet meer doen om feite na te gaan en vals inhoud op te spoor sodat kiesers toegang tot betroubare inligting het:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, sê waterstelsels toon tekens van verbetering, met pogings om waterinfrastruktuur te bestendig en te verbeter, wat positiewe uitslae begin lewer. Johannesburg Water het watertoevoer by 12 reservoirs beperk om die herstel van sekere stelsels te ondersteun wat onder druk was weens groot aanvraag. Morero sê spanne is steeds besig met werk om toevoer te bestendig:
# Rugby: Die Springbokke het in Turyn aangekom vir Saterdag se Nasieskampioenskaps-toets teen Italië. Die span het gister in verskillende groepe uit Suid-Afrika vertrek en afrigter Rassie Erasmus sal vanaand sy span aankondig vir die kragmeting met die Azzurri. Die Springbokke pak Frankryk volgende naweek op die Stade de France in Parys voor hulle ‘n week later in Dublin teen Ierland te staan kom. Die kompetisie se noordelike afdeling word op 27 November gevolg deur die eindronde op Twickenham in Londen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-751-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-906-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Staatsmedia berig Noord-Korea spog met ‘n groeiende aantal luukse braairestaurante waarvan twaalf sedert September geopen is. Die nuwe eetplekke bestaan uit verskeie verdiepings met terrasse langs riviere en bied beesvleis, varkvleis en selfs volstruisvleis aan. Ontleders meen die leier, Kim Jong Un, gebruik die restaurante om ‘n beeld van toenemende welvaart buite die hoofstad, Pyongyang, te skep. Kritici bevraagteken egter hoeveel Noord-Koreane kan bekostig om daar te eet, want volgens skattings deur die Verenigde Nasies, is meer as 40-persent van die bevolking ondervoed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….