Nuus 14:00
BULLETIN 2 Novemeber 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vertragings met die aflewering van stembriewe raak 217 stempunte in Kaapstad
# Die VF Plus gaan ‘n klagte indien teen ‘n MK-parlementslid oor sy plaasaanval-aanmerkings
# En motorsport: Antonelli word groot lof toegeswaai nadat hy die jongste F1-wêreldkampioen ooit word
# Die Verkiesingskommissie het bevestig 217 stempunte in Kaapstad ondervind vertragings met die ontvangs van stembriewe op die eerste dag vir spesiale stemme. Die Wes-Kaapse hoofverkiesingsbeampte, Michael Hendrickse, sê die betrokke stempunte kon nie om agtuur oopmaak soos beplan nie en soou eers oopmaak wanneer die stembriewe afgelewer is. Die OVK skryf die vertragings toe aan onvoorsiene drukwerkprobleme. Bejaardes en kiesers wat nie Woensdag kan stem nie, kan vandag en môre spesiale stemme uitbring.
Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het werkgewers intussen gevra om werkers redelike tyd en buigsaamheid te gun om te gaan stem. Woensdag is tot ‘n openbare vakansiedag verklaar. Die departement se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê werkgewers word aangemoedig om skofte of begintye aan te pas, of tyd af te gee sodat werknemers hul aangewese stempunte kan besoek:
# Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n amptelike klagte by die Menseregtekommissie en die parlementêre Etiekkomitee indien teen die MK-lid Andile Mngxitama oor sy opmerkings oor plaasaanvalle. Hy het op sosiale media gesê die boer van Noordwes, Donovan Marx, wat verlede week wreed aangerand is, is ʼn gronddief en sy ore is afgesny as simbool dat gronddiewe nie wil luister nie. Heloïse Denner van die VF Plus sê dis niks anders as suiwer haatspraak nie:
Nuus uit die buiteland:
# Australiese polisiebeamptes met aanvalsgewere het begin met sigbare patrollies in Sydney ná verlede Desember se dodelike terreuraanval op Bondi-strand. Die nuwe Gewapende Reaksie-eenheid is die eerste van sy soort in die land. Lede sal ontplooi word op groot byeenkomste, besige openbare ruimtes, sportstadions en aanbiddings-plekke. Die eenheid van 250 lede word met sowat ‘n miljard-rand befonds. Die Bondi-aanval, gemik op ‘n Joodse viering, het 15 lewens geëis. Amnestie Internasionaal Australië sê die patrollies veroorsaak kommer oor die toenemende militarisering van wetstoepassing en beskerming van menseregte.
# Motorsport: Mercedes se Italiaanse renjaer, Kimi Antonelli, word wyd geloof nadat hy Formule Een se jongste wêreldkampioen ooit geword het op 20-jaar en 68-dae. Hy het die bestuurderskampioenskap ingepalm toe hy derde was in die Mexikaanse Grand Prix – vier wedrenne voor die einde van die seisoen. Die veelvuldige kampioene Max Verstappen van Nederland en Lewis Hamilton van Brittanje, wat saam met Antonelli in Mexikostad op die podium was, beskryf sy vertoning as indrukwekkend. Antonelli se pa, Marco, sê sy seun het Mercedes gepas bedank omdat hulle in hom geglo het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-883-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-896-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….