Nuus 07:00
BULLETIN 2 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudpresident Jacob Zuma verwerp kommer oor sy gesondheid
# Motoriste verwag verligting by die brandstofpompe die week
# En Pous Leo hoop die wapenstilstand in Oleshky lei tot breër vredespogings
# Die MK-party se president, Jacob Zuma, vra ondersteuners om oorwinning in die plaaslikeregeringsverkiesing te verseker en herhaal dat die party gereed is om Suid-Afrika oor te neem. Hy het ná gesondheidsprobleme gister weer in die openbaar verskyn en die party se laaste verkiesingsaamtrek by die Prinses Magogo-stadion in KwaMashu, eThekwini, toegespreek. Zuma ontken berigte dat sy toestand kritiek was, en sê mense versprei politieke propaganda. Hy het aan ondersteuners gesê die MK-party is die enigste party wat vir die vryheid van swart Suid-Afrikaners veg.
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, vra Suid-Afrikaners om hul stemreg uit te oefen, en beloof etiese leierskap en goeie bestuur in munisipaliteite. Hy het gister die party se verkiesingsveldtog by die Prins Mangosuthu Buthelezi-stadion in Ulundi, in die noorde van KwaZulu-Natal afgesluit. Spesiale stemme kan vandag en môre uitgebring word en Woensdag is die amptelike stemdag. Hlabisa sê IVP-geleide munisipaliteite sal mislukte dienslewering, droë krane, stukkende paaie, onbetroubare elektrisiteit, opgehoopte vullis, donker strate en munisipale kantore wat nie reageer nie aanspreek:
# Suid-Afrikaanse motoriste kan Woensdag verligting by die pompe verwag. Volgens die jongste beskikbare vooruitskattings kan die prys van petrol met sowat 23-sent per liter daal en diesel met tot een-rand-70-sent per liter. Die verwagte dalings volg nadat die regering besluit het om die algemene brandstofheffing tydelik te verlaag as deel van die maatreëls wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, in sy mini-begroting aangekondig het. Die verlaging het ten doel om die uitwerking van stygende brandstofkoste te versag en druk op motoriste te verlig.
# Die Gautengse Wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid versoek alle politieke partye, hul ondersteuners en lede van die publiek om vrede, verdraagsaamheid en respek vir demokratiese beginsels voorop te stel tydens hierdie week se plaaslikeregeringsverkiesing. Die voorsitter, Bandile Masuku, sê die polisie moet meer sigbaar wees by hoërisiko-stemstasies sowel as in gebiede waar spanning kan opvlam en openbare veiligheid bedreig:
# Pous Leo sê hy hoop die skietstilstand in die Russies-besette Oekraïnse dorp, Oleshky, en die humanitêre sending kan die weg baan vir groter vredespogings in Kiëf. Amerika se presidentsvrou, Melania Trump, het die skietstilstand bewerkstellig sodat hulp verleen kan word en inwoners deur humanitêre roetes kan ontruim. Die pous sê die samewerking tussen Rusland en Oekraïne om hierdie noodsaaklike humanitêre stap uit te voer, moet albei partye se gewilligheid versterk om tot verdere diplomatieke onderhandeling in te stem.
# Tennis: Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het die Weense Ope-titel gewen. Dis sy vierde trofee in ‘n seisoen waar hy deur beserings geteister is en sy 28ste loopbaantitel. Die Spanjaard het die Australiër, Alex de Minaur, met 6-1, 6-4 afgeransel om met ʼn perfekte 16-0-seisoen by ATP 500-toernooie te spog. Dit sluit oorwinnings in Doha en Tokio in. Die 23-jarige Alcaraz speel hierdie week in die Parys Meesters. Hy kom in Woensdag se openingswedstryd óf teen die Tsjeg, Jiri Lehecka, óf die Amerikaner, Alex Michelsen, te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-424-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-910-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….