Nuus 09:00
BULLETIN 10 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontwikkelingsekonoom sê Eskom het van die beste na slegste kragmaatskappy gegaan
# Equal Education versoek die regering om skoolinfrastruktuur-agterstande aan te pak
# En rugby: Die tweede ronde van die Sesnasiesreeks word dié naweek beslis
# ‘n Ontwikkelingsekonoom, Daniel Meyer, sê Eskom het binne 24 jaar van een van die beste kragmaatskappye ter wêreld tot een van die swakstes versleg. Meyer het aan eNCA gesê, verswakkende aanleg- en omgewingsprestasie, tesame met jare se onvoldoende instandhouding het tot voortslepende beurtkrag gelei. Hy benadruk Eskom se toenemende uitgawes aan diesel en groeiende munisipale skuld, is verdere aanwysers van die kragvoorsiener se onbetroubaarheid:
# Equal Education het ‘n beroep op die regering gedoen om aandag te skenk aan die agterstande in skoolinfrastruktuur. Mahfouz Raffee van die organisasie sê dit is in ooreenstemming met president Cyril Ramaphosa wat tydens sy staatsrede beklemtoon het onderwys moet ‘n instrument word om gelykheid te skep. Rafee het aan eNCA gesê die regering het nie in die verlede sy beloftes oor hierdie aangeleentheid nagekom nie:
# Die Britse Mediese Vereniging kondig ‘n vyf-dae staking deur junior dokters in Engeland aan, van 24 tot 28 Februarie. Hierdie besluit volg op die Nasionale Gesondheidsdiens se syfers wat vanaf Desember ‘n agterstand van 7,6-miljoen gesondheidsbehandelings vir meer as ses-miljoen pasiënte openbaar. Medevoorsitters van die junior dokterskomitee, Robert Laurenson en Vivek Trivedi, kritiseer die regering se versuim om ‘n verbeterde salarisaanbod voor te lê. Die minister van Gesondheid, Victoria Atkins, het kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die staking op die diens gaan hê.
# Rugby: Die tweede ronde van die Sesnasies-kompetisie word die naweek beslis. Skotland en Frankryk skop die aksie vanmiddag op Murrayfield in Edinburgh af, gevolg deur die wedstryd tussen Engeland en Wallis op Twickenham in Londen. Môremiddag pak die verdedigende kampioen, Ierland, vir Italië in Dublin. Ierland is boaan die punteleer na sy bonuspuntoorwinning oor Frankryk, gevolg deur Engeland wat verlede naweek gesukkel het om met Italië af te reken. Skotland is derde, gevolg deur Wallis, Italië en Frankryk.
# En, om mee af te sluit: ‘n Nie-regeringsorganisasie, We Are South Africans, het 32-duisend kilogram aartappels geskenk om die dringende kwessie van voedselonsekerheid aan te pak. Die skenkings, wat al nege provinsies bereik, volg namate miljoene burgers worstel met onvoldoende toegang tot voedsel. Volgens Statistiek Suid-Afrika het byna 80-persent van huishoudings voldoende voedseltoegang, terwyl 15-persent sukkel. Die stigter, Gilbert Martin, sê die aartappel-veldtog sal ‘n miljoen mense suksesvol kan voed. Martin voeg by hierdie betekenisvolle poging weerspieël ‘n gemeenskapsgedrewe reaksie om hongerte landwyd te verlig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….