Nuus 13:00
BULLETIN 1 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mantashe prys Ramaphosa se leierskap in die ANC se verkiesingsveldtog
# Defend Our Democracy sê kiesers moet hul frustrasie oor swak dienslewering in aktiewe deelname omsit
# En: Trump se hofsaak teen die Wall Street Journal oor ‘n Epstein-berig misluk
# Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, het president Cyril Ramaphosa geprys vir die wyse waarop hy die party se veldtog vir die plaaslikeregeringsverkiesing gelei het. Mantashe het gisteraand die hooftoespraak gelewer op die Siyanqoba-presidensiële fondsinsamelings-galadinee in die Oos-Kaap, voor die party se laaste Siyanqoba-saamtrek vandag. Hy beskryf die veldtog as indrukwekkend en sê daar moet erkenning gegee word aan almal wat daartoe bygedra het:
Intussen sê die burgerregte-groep, Defend Our Democracy, dalende vertroue in plaaslike regering en politieke leiers moenie Suid-Afrikaners ontmoedig om in die plaaslikeregeringsverkiesing te stem nie. Die organisasie se uitvoerende direkteur, Wade Manning, sê inwoners moet hul stemme gebruik om betroubare water, elektrisiteit en aanspreeklike leierskap te eis. Defend Our Democracy sal meer as twee-duisend-600 opgeleide burgerlike waarnemers in al nege provinsies ontplooi om Woensdag se verkiesing dop te hou. Manning sê kiesers moet onreëlmatighede, intimidasie en waninligting aanmeld.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê bekostigbare elektrisiteit is noodsaaklik vir Afrika se nywerhede en ekonomiese ontwikkeling. Hy het gister gepraat tydens die Kgalema Motlanthe-stigting se jaarlikse Drakensberg-forum. Ramokgopa beskryf elektrisiteit as ‘n openbare bate, nie bloot ‘n manier om wins te maak nie. Hy sê Suid-Afrika kan energie-intensiewe digitale infrastruktuur, insluitend datasentrums, lok deur sy hernubare energiebronne beter te benut om te voeldoen aan die groeiende vraag na kunsmatige intelligensie, terwyl ekonomiese groei ondersteun word:
# Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer versoek motoriste om uiters versigtig te wees nadat 18 mense binne sewe dae in drie afsonderlike ongelukke gesterf het. Die jongste ongeluk het gisteroggend ses lewens geëis toe ‘n vragmotor met sowat 30 passasiers op ‘n grondpad naby Bizana omgeslaan het. Die LUR vir Vervoer, Xolile Nqatha, beskryf die toenemende dodetal as uiters kommerwekkend. Hy sê elke lewe is kosbaar en dit is almal se verantwoordelikheid om paaie veilig te hou.
# ‘n Federale regter in Amerika het president Donald Trump se lastersaak teen die Wall Street Journal van die hand gewys. Trump het verlede jaar die publikasie, wat Rupert Murdoch besit, gedagvaar vir sowat 167-miljard-rand oor berigte dat hy glo ‘n verjaardagbrief aan die omstrede seksoortreder Jeffrey Epstein geskryf het. Trump ontken dit egter en beweer die publikasie het doelbewus ‘n vals berig geplaas. Regter Darri Gayles het gelas Trump het nie voldoende bewyse dat die Wall Street Journal opsetlik of kwaadwillig opgetree het nie.
# En motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het sy eerste wegspringplek vir Ferrari in die Meksikostad Grand Prix verower. Dit was sy eerste wegspringplek sedert die Hongaarse Grand Prix in 2023. Hamilton was vinniger as George Russell van Mercedes wat vandag in die tweede plek sal wegspring, met Charles Leclerc, derde. Kimi Antonelli van Mercedes, wat op die punt staan om Formule Een se jongste bestuurderskampioenskaps-titel te wen, spring vierde weg met Max Verstappen van Red Bull, vyfde. Hamilton sê dit is iets besonders om die eerste wegspringplek vir Ferrari te verower:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….