Nuus 11:00
BULLETIN 1 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Polities gemotiveerde moorde styg tot 50 voor die komende verkiesing
# Twee verdagtes is aangekeer ná ‘n wrede plaasaanval in Noordwes
# En Sokker: Pirates tree as oorwinnaars uit die Soweto-derby
# Minstens 50 mense is reeds dood in vermoedelik politieke sluipmoorde en gewelddadige voorvalle in die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November. Die syfer is reeds hoër as die algehele aantal gevalle in beide die 2021 munisipale verkiesing en die 2024 nasionale verkiesing. Die meeste voorvalle was in KwaZulu-Natal, gevolg deur Gauteng, die Oos-Kaap, Noordwes en die Wes-Kaap. Die MK-party, die ANC en IVP is die swaarste getref. Die Global Initiative Against Transnational Organised Crime sê die moorde ondermyn die verkiesingsprosesse en bedreig demokrasie.
# Eskom het bedryfsplanne in plek, insluitend sy 24-uur-netwerkmoniteringstelsel en voorkeur aan operasionele reaksie in gebiede wat verkiesingsaktiwiteite ondersteun, om die risiko van moontlike ontwrigting te verminder. Suid-Afrikaners kan Maandag en Dinsdag spesiale stemme uitbring, terwyl die meerderheid na verwagting Woensdag sal stem. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê beter opwekking het die elektrisiteitstelsel versterk, met 533 opeenvolgende dae sonder beurtkrag:
# Die polisie in Noordwes het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die wrede plaasaanval en roof op Syferfontein naby Ventersdorp vroeër hierdie week. Die 50-jarige boer, Donovan Marks, is Woensdag tydens die aanval geskiet en aangerand en word steeds in die hospitaal behandel. Die provinsiale polisiekommissaris, Peter Adams, sê Marks se bakkie is gister opgespoor en word forensies ondersoek om vas te stel wie se DNS daarop voorkom:
# Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in Gauteng toets ʼn nuwe water-moniteringstelsel wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsraad ontwikkel is om waterlekkasies en chloorvlakke te monitor. Die telemetrie-gebaseerde toetsprojek is daarop gemik om water-verwante gesondheidskrisisse soos dié by Bronkhorstspruit en Hammanskraal te voorkom. LUR Jacob Mamabolo sê die tegnologie sal water-vlakke en -vloei in verspreidingsnetwerke monitor en owerhede help om probleme vroeg te identifiseer. Die stelsel sal na verwagting ook munisipaliteite aanspreeklik hou vir waterprobleme.
# ‘n Massabetoging oor hoë lewenskoste in Frankfurt, Duitsland, se sakekern, het gister in geweld ontaard toe winkels geplunder en nooddienswerkers aangeval is. Die nuwe jeugbeweging, Gen Z, het betoog teen die hoë lewenskoste, onvoldoende befondsing vir skole en universiteite, omgewingskwessies en die moontlike herinstelling van verpligte militêre diensplig. Onlustepolisie moes ook ontplooi word in ander Duitse stede, insluitend Berlyn, Keulen en Hamburg. Die onrus in Duitsland volg op soortgelyke jeug-gedrewe massabetogings in Frankryk.
# En sokker: Orlando Pirates het as die oorwinnaars uit die Soweto-derby getree nadat hulle Kaizer Chiefs in Johannesburg met 2-1 verslaan het. Pirates het in die 24ste minuut die voortou geneem danksy ‘n doel deur Yanela Mbuthuma. Pule Mmodi het vir Amakhosi op gelyke voet gebring nadat die Pirates se doelwagter, Sipho Chaine, weens ‘n fout gestraf is. Tshepang Moremi se doel in die 55ste minuut van die tweede helfte het die wedstryd beklink en Pirates weer boaan die Premierliga-punteleer geplaas. Die Buccaneers se afrigter, Abdeslam Ouaddou, erken sy plan vir die eerste helfte het nie gewerk nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….