Nuus 09:00
BULLETIN 1 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra kiesers om die ANC nóg ‘n kans te gee
# Motlanthe stel ‘n soewereine rykdom-fonds voor om die ekonomie te versterk
# En: Meer as vyf-duisend sterf in die dodelikste Ebola-uitbreking nóg in die Demokratiese Republiek die Kongo
# President Cyril Ramaphosa vra kiesers om die ANC nog ‘n geleentheid te bied om te regeer. Hy het gister die ANC se verkiesingsbyeenkoms in Polokwane, Limpopo toegespreek. Ramaphosa het die party se prioriteite uiteengesit, insluitend werkskepping, die opknapping van water- en elektrisiteitsinfrastruktuur, en die bekamping van misdaad soos geslagsgeweld en korrupsie. Hy beklemtoon die ANC beskik oor die ervaring en die vermoë om sy beloftes rakende dienslewering na te kom:
# Oudpresident Kgalema Motlanthe sê Suid-Afrika moet ‘n soewereine rykdom-fonds stig en ʼn deel van toekomstige inkomste uit minerale, staatsbates en ander volhoubare bydraes gebruik. Hy het deelgeneem aan die Kgalema Motlanthe-stigting se Drakensberg Inklusiewe Groei-forum se debat oor ekonomiese groei en werkskepping. Motlanthe sê die doel is om beperkte natuurlike bronne te omskep in blywende ekonomiese bates soos infrastruktuur, plaaslike voorsieningskettings en vaardighede:
# Die Padongelukkefonds sê hy gaan voort met die aanstelling van Waseem Carrim as sy uitvoerende hoof, met die fokus op bestendigheid, aanspreeklikheid en doeltreffende bestuur. Die Hooggeregshof in Pretoria het die finansiële hoof van die uMhlathuze-munisipaliteit, Mxolisi Kunene, wat wou keer dat Carrim die pos aanvaar se dringende aansoek geweier. Kunene voer aan hy was die kandidaat wat die hoogste punt in die werwingsproses behaal het. Die fonds sê geen tussentydse hofbevel keer dat Carrim se aanstelling voortgaan nie.
# KwaZulu-Natal se waarnemende polisiekommissaris, Phumelele Makoba, sê geen optogte gaan Woensdag tydens die plaaslikeregeringsverkiesing toegelaat word nie. Onlangse gewelddadige betogings in Durban het die polisie gedwing om ʼn hofbevel teen ontwrigtende en gewelddadige betogings te kry. Makoba sê die polisie het landwyd 331 stemlokale geïdentifiseer wat moontlike brandpunte kan wees. KwaZulu-Natal het met 165 die meeste, en 124 daarvan is in die eThekwini-distrik:
# Die dodetal weens die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo het vyf-duisend oorskry terwyl owerhede probeer om die grootste en dodelikste uitbreking in die land se geskiedenis te bekamp. Altesaam tien-duisend-300 gevalle is reeds in agt van die 26 provinsies aangeteken. Die Bundibugyo-stam veroorsaak hierdie uitbreking, waarvoor daar nog geen behandeling of entstof beskikbaar is nie. Dit is die tweede grootste ter wêreld ná die 2014–2016-uitbreking in Wes-Afrika. Ebola-gevalle is ook bevestig in Kenia, Nigerië en Uganda.
# En rugby: Die Bulle het agt drieë gedruk in ‘n gemaklike 54-26 oorwinning oor die Scarlets op Loftus Versfeld in Pretoria en het opgeskuif na tweede op die Verenigde Rugbykampioenskap se puntelys. Yaqeen Ahmed het in Kaapstad 13 punte aangeteken in die Stormers se vierde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning van 33-7 oor Ulster. Gianni Lombard en Ivan van Zyl het elk ‘n drie gedruk toe die Haaie Munster in Ierland met 15-3 geklop het. Die VRK word nou vir die Nasieskampioenskap onderbreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….