Nuus 11:00
BULLETIN 31 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP is vol vertroue voor die verkiesing en sê sy manifes bied kiesers praktiese oplossings
# Mbalula erken die Makana-munisipaliteit se waterkrisis bly ’n probleem
# En rugby, Markus Muller opgeneem in Stormers se opdrafspan nadat Roche beseer is
# Die IVP sê kiesers moet vir leierskap stem wat verbind is tot aanspreeklike regering, deursigtigheid, beter dienslewering en ‘n plaaslike regering wat reageer. Die party hou môre sy laaste Siyanqoba-saamtrek by die Prins Mangosuthu Streek-stadion in Ulundi in aanloop tot Woensdag se plaaslikeregeringsverkiesing. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, het aan die SABC gesê die party se vyfpunt-manifes hanteer die kwessies wat mense raak:
Die DA sê die inhegtenisneming van die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, en die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, wek ernstige kommer oor korrupsie in Suid-Afrika se wetstoepassingsagentskappe. Die twee staan tereg op aanklagte van regsverydeling. Glynnis Breytenbach van die party sê die bewerings het die openbare vertroue in die eenheid geskaad en vra dat die direktoraat ontbind word. Breytenbach het haar oproep herhaal vir ‘n onafhanklike teen-korrupsie-liggaam onafhanklik van die Nasionale Vervolgingsgesag se beheer en politieke inmenging.
# Eskom sê hy is besig met ʼn voortgesette, herhalende proses om bestuur en interne raamwerke te versterk wat kontrakbeheer en bedryf-noodgevalle betref. Dit volg nadat tekortkominge geïdentifiseer is tydens die ondersoek na diesel-aankope en bergingskontrakte. Die ondersoek het gevalle bevestig waar die kragvoorsiener se prosesse nie nagekom is nie. Dit hou verband met betalings aan sekere verskaffers kragtens nood-goedkeuring waarvoor hy nie die gesag gehad het nie. Eskom sê sowat 38-miljard-rand se onregmatige besteding is geïdentifiseer en beklemtoon dat operasionele druk nie bestuursmislukkings verskoon nie.
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula erken dat watervoorsiening steeds ʼn groot probleem in die Makana plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap is. Die munisipaliteit loop deur onder ʼn ernstige, sistemiese water- en sanitasie-krisis wat veroorsaak word deur erge droogte, vervalle infrastruktuur, swak bestuur en gesondheidsgevare. Mbalula erken dat die krisis onder die ANC-geleide munisipaliteit ontstaan het. Hy sê regeringsingryping om waterinfrastruktuur te verbeter, sal ná die plaaslikeregeringsverkiesing voortgaan:
# Eerste minister Mark Carney sê Kanada werk aan die sterkste moontlike vennootskap met die Europese Unie terwyl die land gereed maak om teen Junie 2027 ʼn medelid van die groep van 27 lede te word. Die EU en Kanada vorm ʼn nuwe vennootskap, die “Alliance for the Future”, om hul afhanklikheid van groot moondhede soos China en Amerika te verminder. Carney sê ʼn sterker Kanada-EU-vennootskap sal meer keuses bied, laer koste vir gesinne lewer en nuwe uitvoermarkte vir ondernemings skep:
# Rugby: Die Stormers pak Ulster vanmiddag in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd in Kaapstad nadat ‘n laat verandering aan die opdrafspan aangebring moes word. Die jong Junior Springbok, Markus Muller, dra die nommer 12-trui in die plek van die beseerde Jonathan Roche. Die 19-jarige Muller is vroeër die week na die senior Springbokgroep opgeroep vir volgende maand se Nasieskampioenskap-toer na Europa. Nog ‘n nuweling, Yaqeen Ahmed, sal op losskakel uitdraf, met die ervare Springbok-skrumskakel Cobus Reinach langs hom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….