Nuus 08:00
BULLETIN 31 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa herhaal sy vertroue dat die ANC sal goed vaar in die verkiesing
# Die DA hoop om sy uitgebreide verkiesingsveldtog in stemme om te skakel
# En Christa Pike sê sy het konstant fisiese pyn sedert die verbroude teregstelling
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het weer vertroue uitgespreek dat die party goed sal vaar in die plaaslikeregeringsverkiesing. Die party se ondersteuning het gedaal van 65-persent in die 2006 munisipale verkiesing tot 40,2-persent in die 2024 nasionale verkiesing. Projeksies dui daarop dat die ANC minstens nog ses persentasiepunte van sy 2024-uitslag kan verloor. Ramaphosa het gister tydens ‘n deur-tot-deur-veldtog in Mabopane buite Pretoria gesê hulle gaan in die naweek se veldtogte baie hard werk:
# Die DA sê hy is gereed vir die plaaslikeregeringsverkiesing en hoop om sy uitgebreide veldtog in stemme om te skakel. Onlangse meningspeilings toon die party en die ANC loop kop aan kop. Volgens interne en openbare peilings het die DA nasionaal tussen 28,4-persent en 35-persent ondersteuning wat slegs 1,2-persentasiepunte minder as die ANC is. Die DA se federale voorsitter, Solly Msimanga, sê hulle het hul strukture op grondvlak versterk en het landwyd burgemeesterskandidate wat gereed is om ʼn verskil te maak:
# AgriSA sê Suid-Afrika se landbousektor het tussen April en Junie vanjaar ‘n handelsoorskot van sowat 36-miljard-rand aangeteken. Dit is ‘n toename van 11,6-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Landbou-uitvoer was sowat 69-miljard-rand, terwyl invoere 33-miljard-rand beloop het. Vrugte en ander tuinbouprodukte het meer as die helfte van die uitvoere uitgemaak. Die sektor word steeds onderwerp aan uitdagings, insluitend die uitbreking van bek-en-klouseer, beperkte toegang tot sommige uitvoermarkte en swak hawe- en spoordienste.
# Die Stad Johannesburg doen ‘n beroep op inwoners en ondernemings om vir moontlike weerstoestande voor te berei wat verband hou met El Niño tydens die komende somer. Die stad waarsku warmer en droër toestande kan druk op watervoorrade plaas, terwyl hewige donderstorms, sterk winde en kitsvloede ook moontlik is. Deur sy “El Niño-ready Joburg“-veldtog word inwoners aangemoedig om water te bespaar, lekkasies te herstel en amptelike weerwaarskuwings te eerbiedig. Vroeë voorbereiding en verantwoordelike watergebruik sal help om die impak van moontlike somerrisiko’s te verminder.
Die Amerikaanse terdoodveroordeelde gevangene, Christa Pike, sê sy was gereed om tydens die teregstelling te sterf, maar het alleen, verward en vol pyn in ʼn hospitaal wakker geword. Die 50-jarige Pike het in September twee dodelike inspuitings van die dwelm, pentobarbital, oorleef wat haar in ʼn bedenklike toestand in Tennessee gelaat het. Pike het in haar eerste verklaring sedert die mislukte teregstelling gesê haar hele liggaam pyn en sy sukkel steeds om te praat. Sy sê sy is ontsteld oor die onbevoegdheid wat so baie mense in hierdie verskriklike posisie geplaas het.
# Rugby: Die Glasgow Warriors is boaan die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer nadat hulle hul onoorwonne veldtog voortgesit het met ʼn bonuspunt-oorwinning van 29-20 oor die Leeus in Skotland. Die gashere, wat elf spelers weens verpligtinge teenoor Skotland moes afstaan, het teen rustyd met 19-3 voorgeloop. Dis die Leeus se derde agtereenvolgende weg-nederlaag in die toernooi. Die verdedigende kampioene, Leinster, het hulle Ierse teenstanders, Connacht, met 50-5 in Galway, Ierland, verpletter. Die VRK neem in November ʼn blaaskans om die Nasies-kampioenskap ʼn beurt te gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….