Nuus 17:00
BULLETIN 30 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, en Feroz Khan is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat
# Die bedrog-aangeklaagde Peet Viljoen onderhandel met die Staat oor ’n pleitooreenkoms
# En, rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx bevestig hy keer terug na Suid-Afrika
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, en die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, is borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan. Die twee staan tereg op aanklagte van regsverydeling en oortreding van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag gekoppel aan ‘n beweerde poging om in te meng met ‘n aanrandingsaak in 2018. Khan word daarvan beskuldig hy het ‘n brigadier aangerand, terwyl Johnson na bewering in die saak ingemeng het. Albei beskuldigdes sal na verwagting weer op 2 Februarie in die Pretoriase Landdroshof verskyn.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, het die nasionale minister van Vervoer, Barbara Creecy, gevra om dringend in te gryp om moontlike knelpunte by Suid-Afrikaanse hawens te identifiseer en te verwyder. Die doel is om voorkeur te gee aan die verwerking en beweging van ingevoerde medisyne, veral by die Durban-hawe waar vertragings voorkom. Wenger sê elke onnodige vertraging om medisyne in die land te kry, keer dat dit uitkom by pasiënte wat dit nodig het:
# Die geskorste prokureur en realiteits-TV-persoonlikheid Peet Viljoen is volgens berigte in onderhandeling met die staat oor ‘n moontlike pleitooreenkoms. Viljoen staan tereg op nagenoeg 400 aanklagte, insluitend bedrog, diefstal, korrupsie en vervalsing, wat verband hou met die beweerde bedrieglike verkoop van 46 Johannesburgse munisipale eiendomme ter waarde van sowat 27-miljoen-rand in 2010. Die staat beweer vervalste dokumente is gebruik om die eiendomme oor te dra sonder die Stad Johannesburg se medewete of toestemming. Viljoen is in Junie in hegtenis geneem na hy uit Amerika gedeporteer is en hy bly in aanhouding na hy borgtog geweier is.
# Ethiopië het 12 Su-35-vegvliegtuie van Rusland ontvang terwyl gevegte toeneem in die noordelike Tigray-streek aan die grens met Eritreë. Eerste minister Abiy Ahmed, wat die Rusland-Afrika-beraad in Moskou bywoon, het die verkryging beskryf as ‘n mylpaal wat Ethiopië se verdedigingsvermoë sal versterk. Hy sê die aflewering volg ná ‘n jare-lange ooreenkoms tussen die twee lande. Abiy beskryf die Russiese president, Vladimir Putin, as ‘n goeie vriend van Ethiopië en sê die land is nou die eerste in Afrika suid van die Sahara wat oor hierdie gevorderde gevegstegnologie beskik.
# Rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx het bevestig hy keer terug na Suid-Afrika wanneer sy kontrak met Kubota Spears die einde van die seisoen verstryk, met ‘n skuif na die Bulle ‘n moontlikheid. Die wêreldspeler van die jaar het in 2021 by die Japannese klub aangesluit nadat hy sedert 2014 vir die Leeus gespeel het. Hy het 205 punte aangeteken in 68 wedstryde vir Kubota. Die 32-jarige Marx sê hy het die moeilike besluit geneem om terug te keer weens gesinsverpligtinge en beskryf sy tydjie in Japan as uiters waardevol.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-181-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-941-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 117-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….