Nuus 12:00
BULLETIN 30 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Privaat operateurs sal die spoorvragvermoë verhoog
# Die Kaapstadse Lughawe ondervind ‘n personeeltekort weens die taxi-verwante geweld
# En rooibos gaan ruimte toe
# Die regering het elf privaat spooroperateurs goedgekeur wat na verwagting vanaf April volgende jaar met hulle bedrywighede sal begin. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê dit volg nadat vragvermoë die afgelope twee jaar met meer as 20-miljoen-ton toegeneem het. Die nuwe operateurs sal na verwagting nog 24-miljoen-ton byvoeg. Verteenwoordigers sê die herstel van spoor-infrastruktuur, betroubare dienslewering en beleggersvertroue bly noodsaaklik om logistieke koste te verlaag en die land se mynbou-, vervaardiging- en uitvoersektore te versterk.
# Die Kaapstadse Internasionale Lughawe se sekerheid-sifting ondervind tans langer as normale toue weens ‘n tekort aan personeel. Dit hou verband met die voortslepende taxi-onluste wat tot personeeltekorte lei en vlugte vertraag. Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy raai passasiers aan om verkeersinligting dop te hou, hul vlugstatus by hul lugredery na te gaan en vroeg op te daag om voorsiening te maak vir bykomende tyd vir prosedures. ACSA sê spanne is besig om passasiersvloei te bestuur en ontwrigting te beperk.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta moedig voornemende studente aan om hul aansoeke by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente in te handig voor môre se sperdatum. Die skema het reeds meer as ʼn miljoen aansoeke vir volgende jaar se finansieringsiklus ontvang. Makaneta veroordeel mense en bedrieglike organisasies wat studente uitbuit deur geld te vra om hulle met die aansoeke te help:
# Rugby: Die vyfde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap sal na hierdie naweek se wedstryde vir ‘n maand onderbreek word vir die internasionale gleuf. Die Leeus en Glasgow Warriors speel vanaand teen mekaar in Skotland, en die Stormers verwelkom môre die Ierse span Ulster in Kaapstad. Die Bulle ontvang die Walliese span Scarlets op Loftus, terwyl die Haaie in Ierland teen Munster te staan kom. Die Bulle is tans derde op die punteleer, agter Edinburgh en Glasgow. Die Stormers is vierde, die Haaie vyfde en die Leeus elfde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-874-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-987-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 117-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom planne om rooibos-saad na die Internasionale Ruimtestasie te stuur. Altesaam 17-duisend-346 saadjies sal gestuur word as deel van ʼn wetenskaplike proefneming om te bepaal hoe ruimte-toestande groei beïnvloed. Die saadjies, wat ongeveer 74,2 gram weeg, word na Voyager Technologies in Texas geneem om die proefneming vir die ruimtevlug voor te berei. Bennie van Zyl van TLU SA sê dit plaas die kollig op voortgesette vordering in landbou-navorsing en -vernuwing:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….