Nuus 09:00
BULLETIN 30 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom die aanbeveling om Nhlanhla Mkhwanazi as hoof van die Valke aan te stel
# March and March sê hulle gaan voort met betogings ten spyte van minister Cachalia se dringende interdik
# En, ‘n Australiese hof beslis die sampioen-moordenaar Erin Patterson moet lewenslank agter tralies bly
# ActionSA ondersteun die aanbeveling deur die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, as die nasionale hoof van die Valke aan te stel. Cachalia het ‘n kabinetsmemorandum ingedien waarin die kabinet se goedkeuring vir die aanstelling versoek word. Stephan Gerber van ActionSA sê die aanbeveling volg na maande van ondersoeke, kommissies, parlementêre komitees en toenemende openbare druk oor die beweerde infiltrasie van die polisiediens deur misdadige elemente wat binne sy geledere opereer. Hy sê Mkhwanazi het verlede jaar hierdie bekommernisse nasionaal onder die kollig geplaas:
Intussen het Forum for South Africa ook die aanbeveling verwelkom dat Mkhwanazi in die pos aangestel word. Die eenheid is sedert Junie 2025 sonder ‘n permanente hoof, na die aftrede van Godfrey Lebeya, wat die eenheid jare lank gelei het. Die leier van die forum, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrikaners het Mkhwanazi se werk gesien, asook sy openbare standpunt oor kwessies soos misdaad, korrupsie, politieke inmenging en aanspreeklikheid:
# Die leier van March and March, Jacinta Ngobese-Zuma, beskuldig die regering dat hy die beweging probeer stilmaak, eerder as om sy kommer oor immigrasie en die behandeling van Suid-Afrikaners aan te spreek. Dit volg nadat die minister van Polisie, Firoz Cachalia, vroeër die week ‘n tussentydse hofinterdik teen die beweging gekry het wat sy betogings in dele van Durban beperk. Die Hooggeregshof in Durban sal vandag besluit of die beperkings finaal sal wees. Ngobese-Zuma sê betogings sal slegs ophou wanneer die regering ʼn plan voorlê om die betogers se bekommernisse te hanteer.
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese sampioen-moordenaar, Erin Patterson, het ʼn aansoek teen haar skuldigbevindings verloor. Sy is in September 2025 tot lewenslange tronkstraf, sonder die moontlikheid van parool vir 33 jaar, gevonnis. Sy is skuldig bevind aan moord op drie mense nadat sy giftige sampioene in ʼn maaltyd voorgesit het. ʼn Paneel van drie regters in die Victoria-hooggeregshof in Melbourne het bevind haar vonnis is te lig, en beskryf haar misdade as “buitengewoon koud en berekend”. Hulle sê die saak is so skokkend misdadig dat ʼn vasgestelde tydperk sonder parool onvanpas is.
# Motorsport: Die Italianer Kimi Antonelli, wat gereed is om sy eerste Formule Een-bestuurderskampioenskap-titel op te raap, herstel tans van ʼn virus-infeksie. Die Mercedes-renjaer het gister media-dag by die Mexiko-stad Grand Prix misgeloop om hom kans te gee om voor die naweek te herstel. As hy Sondag onder die top-nege eindig, sal die 20-jarige Antonelli die sport se jongste wêreldkampioen word en Sebastian Vettel se rekord met drie jaar verbeter. Die eerste oefenrondte begin halfnege vanaand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-105-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-992-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 117-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….