Nuus 16:00
BULLETIN 29 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris is in aanmerking vir die voorste Valke-pos
# Die Wes-Kaapse polisie is gereed om die verkiesing te beveilig
# En Olimpiese Spele: Alles is gereed vir die Jeugspele in Dakar
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die kabinet gevra om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se aanstelling as nasionale hoof van die Valke goed te keur. Cachalia het ‘n dokument vir goedkeuring voorgelê. Die versoek sal na verwagting so gou moontlik oorweeg word. Die departement se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê die aanstelling is belangrik om sterk leierskap te verseker in die eenheid, wat georganiseerde misdaad, korrupsie en ander ernstige misdrywe ondersoek:
# Die waarnemende hoof van die Nasionale Intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo, het ingestem sekere gedeklassifiseerde dokumente mag tydens openbare verhore in die Madlanga-kommissie gebruik word. Dit volg nadat voorsitter Mbuyiseli Madlanga ‘n versoek verwerp het om sy getuienis heeltemal agter geslote deure aan te hoor. Die getuienisleiers het Sifolo geraadpleeg oor watter dokumente in die openbaar gewys kan word. Die ooreenkoms laat vrae toe gegrond op goedgekeurde dokumente tydens openbare verrigtinge, terwyl vertroulike inligting beskerm word.
# Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Sizakhele Dyantyi, sê hulle is gereed om veiligheid te handhaaf en te reageer op enige ontwrigtings tydens Woensdag se munisipale verkiesing. Hy sê daar is ‘n toegewyde bedryfsplan met afsonderlike ontplooiings om moontlike bedreigings die hoof te bied. Dyantyi sê die polisie sal nie beamptes van bestaande operasies onttrek om verkiesingsverwante veiligheid te hanteer nie. Hy sê die nodige hulpbronne is geïdentifiseer sonder om bestaande veiligheidsreëlings te ontwrig:
Nuus uit die buiteland:
# Benjamin Netanyahu is op koers om as Israel se eerste minister waar te neem nadat hy sterker as verwagte steun onder Joodse kiesers gekry het, al het sy regse alliansie sy parlementêre meerderheid verloor. Byna 86-persent van die stemme is getel. Die drie grootste uitsaaiers voorspel Netanyahu se alliansie van regse, verregse en ultra-Ortodokse partye sou 53 van die Knesset se 120 setels wen en die opposisie-alliansie van sy mededinger, Gadi Eisenkot, ‘n geskatte 48. Partye wat Arabiese Israeli’s verteenwoordig, is op koers na ‘n ongekende 19 setels.
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee sê alles is gereed vir die geskiedkundige Jeugspele in Dakar, Senegal. Twee-duisend-655 van die wêreld se beste jong atlete tussen 14 en 17-jaar gaan na verwagting deelneem aan die eerste Olimpiese byeenkoms in Afrika. Dit duur van Saterdag tot 13 November. Daar is 25 sportkodes en 153 medalje-items. Die IOK se president, Kirsty Coventry, verwag die Spele gaan ‘n groot sukses wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-907-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-25-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….