Nuus 15:00
BULLETIN 29 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stad Tshwane bevestig ‘n Inkomstediens-ondersoek waarby sy finansiële hoof betrokke is
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is onder druk om ‘n koper te vind namate die Tesourie sy voorwaardes verskerp
# En rugby: Die Bulle se kaptein word vrygespreek ná sy rooikaart teen Ulster
# Die Stad Tshwane het bevestig die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die kantoor van sy finansiële hoof, Gareth Mnisi, in Tshwane Huis deursoek. Die waarnemende stadsbestuurder, Musa Khumalo, was teenwoordig en het toegang tot Mnisi se kantoor verleen. Woordvoerder Samkelo Mgobozi sê die saak is steeds by die SAID se soek- en beslagleggingseenheid en die stad sal nie tans verdere kommentaar lewer nie:
# Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Sizakhele Dyantyi, sê ondersoeke word verskerp na die dodelike taxi-verwante skietvoorvalle in Kaapstad. Die geweld word verbind met rusies oor roetes tussen die twee strydende taxiverenigings, CATA en CODETA. Dyanti sê meer polisielede is op die betrokke roetes ontplooi, insluitend die R300 en Samora Machel:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê die departement sal nie geslagsgeweld deur onderwysers duld nie. Hy het gepraat voor die Protea-Landdroshof tydens die hofverskyning van ‘n onderwyser van Soweto wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n Graad 4-meisie verkrag het. Maile het bevestig die onderwyser is voorlopig geskors. Die saak is tot Dinsdag uitgestel. Maile sê skole moet veilige plekke vir kinders bly:
# Die Nasionale Tesourie het die Suid-Afrikaanse Lugdiens tot Februarie gegee om ‘n strategiese aandelevennoot te vind en waarsku hy sal geen verdere staatsondersteuning kry wanneer die huidige leningswaarborg van ‘n miljard-rand verval nie. Die redery het nog nie die waarborg gebruik nie en moet nie-kernbates identifiseer wat verkoop kan word om sy geldelike posisie te versterk. Die S-A-L sê sy aandeelhouer lei die soektog na ‘n vennoot, terwyl hy moontlike leners betrek. Die Organisasie teen Belastingmisbruik skryf die voortdurende finansiële uitdagings toe aan politieke inmenging en swak leierskap.
# Rugby: ‘n Tugkomitee van die Verenigde Rugbykampioenskap het die Bulle se kaptein, Marcell Coetzee, vrygespreek nadat hy verlede naweek teen Ulster ‘n rooikaart gekry het vir gevaarlike spel teen die slot Ben Donnell. Hy het aanvanklik ‘n geelkaart gekry, wat ná ‘n hersiening na rooi opgradeer is. Die komitee het bevind daar was wel ‘n oortreding, maar die kopkontak was nie opsetlik nie en die geelkaart was voldoende straf. Coetzee is dus beskikbaar vir Saterdag se VRK-wedstryd teen Scarlets op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-33-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-31-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….