Nuus 08:00
BULLETIN 29 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal die nodige stappe doen om lewens, eiendom en wettige sakeondernemings te beskerm
# Tshwane se waterstelsel is steeds onder druk te midde van hoë verbruik
# En tennis, Novak Djokovic is steeds op koers om vir die ATP-jaareindtoernooi te kwalifiseer
# President Cyril Ramaphosa veroordeel die geweld, plundery en aanvalle op sakeondernemings tydens die onlangse betogings teen onwettige immigrante in KwaZulu-Natal. Hy het gister die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se 170ste jaarlikse gala-dinee in eThekwini toegespreek. Hy het in April 2024 die presidensiële eThekwini-werkgroep in samewerking met die Kamer gestig om probleme soos misdaad, wateronderbrekings, verouderende infrastruktuur, dalende toeriste-getalle en ondoeltreffende hawens aan te spreek. Ramaphosa sê ekonomiese voorspoed hang af van maatskaplike bestendigheid, want sakeondernemings kan nie gedy waar daar geweld, intimidasie en wetteloosheid is nie:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê geen voorkeur-bieër is aangestel in die eerste bod-venster van Suid-Afrika se verkrygingsprogram vir onafhanklike gas-kragprodusente nie. Dit volg nadat nie een voldoen het aan die verpligte funksionele kriteria om die gasvoorsieningswaarborge te verskaf wat die tender vereis nie. Die program se mikpunt was om twee-duisend megawatt gas-aangedrewe elektrisiteitsopwekking te bekom. Ramokgopa beklemtoon dat die regering nie afsien van sy gas-tot-krag doelwitte nie, en sê dis nodig vir die infrastruktuur-, kommersiële en institusionele voorwaardes wat vereis word om mark-belangstelling om te skakel in lewensvatbare en uitvoerbare projekte.
# Die Stad Tshwane sê sy algehele waterstelsel bly onder druk weens hoë verbruiksvlakke in sekere gebiede, insluitend Ga-Rankuwa, Akasia, Brakfontein en Pretoria. Die oormatige waterverbruik het die metro genoodsaak om toevoerbeperkings toe te pas by reservoirs met hoë verbruik, ten einde te help met die bestendiging van die stelsels stroomop. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê daar is in sommige gevalle effense verbeterings ná die instelling van watertoevoerbeperkings by aangewese reservoirs, maar die watervlakke by ander bly steeds laag:
# Die Amerikaanse Federale Reserwe het besluit om rentekoerse tussen 3,75-persent en vier-persent te hou in die aanloop tot die middeltermynverkiesing nadat dit in September die eerste keer sedert 2023 gestyg het. President Donald Trump was gekant teen September se rentekoersverhoging en het gesê dit behoort een-persent of minder te wees. Die voorsitter, Kevin Warsh, sê politiek speel geen rol in die besluit nie en dat beleidmakers geopolitieke verwikkelings en oliepryse fyn sal dophou voor hulle weer in Desember vergader:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, kan steeds vir die jaareindtoernooi in Turyn kwalifiseer na ‘n welverdiende oorwinning by die Switserse binnenshuise toernooi in Basel. Die 39-jarige Serwiër het Ugo Humbert van Frankryk met 4-6, 6-3, 6-4 verslaan om die rondte van 16 te haal in sy eerste verskyning by die toernooi sedert 2011. Die oorwinning verseker dat Djokovic, wat elfde is in die wedloop na Turyn, moontlik steeds vir ʼn rekord 19de keer in die ATP-jaareindtoernooi kan meeding. Slegs die jaar se top-agt spelers kwalifiseer vir dié eer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-736-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-37-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 115-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….