Nuus 18:00
BULLETIN 28 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistiek Suid-Afrika sê meer as 2,1-miljoen buitelandse reisigers het Suid-Afrika in September besoek
# Johannesburg-water sê geen besoedeling is in Bez Valley se water gevind nie
# En, minstens tien mense is dood toe twee treine in Spanje bots
# Statistiek Suid-Afrika sê byna 2,9-miljoen reisigers het in September deur die land se grense en lughawens beweeg waarvan meer as 2,1-miljoen buitelandse reisigers was. Nagenoeg een-miljoen buitelandse besoekers het in die land aangekom, waarvan meer as 835-duisend hier oornag het en byna 227-duisend vir die dag gekom het. Die meeste toeriste wat oornag het, was afkomstig uit lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, met meer as 659-duisend besoekers. ‘n Verdere 161-duisend toeriste het van oorsee gekom, met meer as 13-duisend uit ander Afrika-lande.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement beskou Binnelandse Sake se suksesvolle hervormingsprogram vir digitale hervorming as ‘n model om doeltreffendheid en dienslewering te verbeter. Die sukses van die “Home Affairs @home”-hervormings bevat die uitbreiding van toegang tot meer as ‘n duisend dienspunte en die verwerking van meer as ‘n miljoen slim identiteitskaart-aansoeke. Die LUR, Jaco Londt, sê die WKOD, wat 1,2 miljoen leerders bedien, wil tegnologie inspan om die administratiewe las op onderwysers en skole te verlig:
# Johannesburg Water sê geen besoedeling is opgespoor in watermonsters wat vroeër hierdie week op eiendomme in Bezuidenhoutvallei ingesamel is nie, en dit voldoen aan gesondheids- en veiligheidstandaarde. Woordvoerder Nombuso Shabalala sê die voorsorgwaarskuwing oor watergehalte is opgehef en watervoorsiening word herstel. Inwoners kan watergebruik hervat, insluitend vir drink- en kookdoeleindes. Shabalala sê verbruikers moet krane ‘n rukkie oopdraai om water uit te spoel wat tydens die afsluiting in die pype agtergebly het:
# Minstens 10 mense is dood toe twee sneltreine suid van Madrid gebots het, met die Spaanse media wat sê die dodetal staan nou op 46. Daar was 544 passasiers aanboord van die twee treine toe die ongeluk vroeër vanoggend naby Urda in die Toledo provinsie plaasgevind het. Spanje se spoorwegoperateur sê dienste op die hoëspoedroete wat Madrid met die suidelike dele van Spanje verbind is opgeskort. Nooddienste, insluitend brandbestryders en mediese helikopters, is op die toneel om slagoffers by te staan. Die oorsaak van die botsing, asook die aantal beseerdes, is nog nie bekend gemaak nie.
# Gholf: Drie voormalige kampioene keer terug vir die 10de AfrAsia Bank Mauritius-Ope by Mont Choisy Le Golf, wat van 10 tot 13 Desember plaasvind. Die Suid-Afrikaner Jayden Schaper, wat verlede jaar se toernooi in ’n uitspeelstryd gewen het, sal sy titel verdedig teen Engeland se John Parry en die Fransman Antoine Rozner, wat onderskeidelik die kampioene in 2024 en 2022 was. Al drie hoop op ’n tweede oorwinning in die toernooi. Die Suid-Afrikaners Casey Jarvis, Thriston Lawrence, Branden Grace en Dean Burmester is onder die bekende name wat bevestig is vir die toernooi met ‘n prysgeld van 1,5-miljoen-dollar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-562-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-48-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 116-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….