Nuus 17:00
BULLETIN 28 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim bly in aanhouding ondanks borgtog
# ‘n Tweede Suid-Afrikaner word in Amerika in hegtenis geneem oor kinderpornografie-aanklagte
# En, verskeie gebiede in Tshwane kry dalk waterbeperkings weens druk op die stelsel
# Die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, bly in aanhouding al is borgtog van 100-duisend-rand aan hom toegestaan in ‘n afsonderlike saak wat met die Madlanga-kommissie verband hou. Carrim sal na verwagting Vrydag in die Musina-Landdroshof om borgtog aansoek doen waar hy ook teregstaan op aanklagte van poging tot diefstal, bedrog, die gebruik van vervalste dokumente en geldwassery. Carrim word beskuldig van sameswering met werknemers om twee voertuie wat Absa befonds het, met behulp van vervalste bankdokumente via Zimbabwe na Malawi te probeer smokkel. Die voertuie is by die Beitbrug-grenspos onderskep.
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA se hoofsekretaris, Irvin Jim, beweer daar is pogings om die vakbond onbestendig te maak voor sy twaalfde nasionale kongres. NUMSA se sentrale komitee het Jim, president Andrew Chirwa en ander nasionale leiers van hul bevoegdhede ontneem en beskuldig dat hulle versuim het om hul pligte na te kom. Die stap volg op ‘n toenemende leierskapsgeskil, wat ook kommer oor finansiële bestuur insluit. Jim het die veldtog teen nasionale ampsdraers veroordeel:
# Twee Suid-Afrikaners staan in Amerika afsonderlik tereg op aanklagte van die beweerde seksuele misbruik van kinders. Arno Venter, wat ingevolge die Afrikaner-vlugtelingsprogram in die land was, is vroeër die maand in Ohio in hegtenis geneem. Die Departement van Binnelandse Veiligheid sê hy kan ná sy verhoor gedeporteer word. Vico du Toit, wat op ‘n werkvisum in Amerika was, is gister in Oklahoma in hegtenis geneem. Hy staan tereg op nege aanklagte, insluitend die beweerde besit en verspreiding van kinderpornografie. Du Toit word aangehou op borgtog van 8,3-miljoen-rand. Beide sake moet nog in die hof voorkom.
# Die Stad Tshwane sê hy gaan voort met waterbeperkings, Met hoë verbruik wat druk op die stelsel plaas. Hoewel sommige reservoirs ‘n effense verbetering getoon het, bly ander steeds laag of leeg. Gebiede soos Ga-Rankuwa, Louwlardia, Winterveld, Mooikloof en Queenswood bly onder druk, terwyl ander gebiede ook moontlik beperkings sal kry, indien inwoners nie hul waterverbruik verminder nie. Selby Bokaba van die stad doen ‘n beroep op inwoners om water te spaar ten einde die voorsieningstelsel te help bestendig:
# Rugby: Engeland se eerstekeuse-losskakel, Fin Smith, moet nog sy fiksheid bewys vir volgende Sondag se Nasieskampioenskaps-tuiswedstryd teen Australië. Hy het ‘n kuitbesering opgedoen terwyl hy vir Northampton teen Leicester gespeel het. Engeland se afrigter, Steve Borthwick, sê Smith het goeie vordering gemaak en hy hoop hy sal beskikbaar wees. Die Suid-Afrikaans-gebore Benhard Janse van Rensburg sal nie aan die kampioenskap deelneem nie omdat hy twee keer harsingskudding in sy laaste drie wedstryde opgedoen het. Hy het in Julie teen Fidji sy buiging gemaak vir sy aangenome land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-650-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-53-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 116-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….