Nuus 16:00
BULLETIN 28 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Een mens sterf in kitsvloede in die Oos-Kaap
# Die Nulane-korrupsiesaak word tot Januarie uitgestel
# En tennis: Wawrinka beëindig sy beroepsloopbaan in Basel
# Minstens een mens is dood nadat fratsvloede dele van die OR Tambo-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap getref het. Dit het gevolg op ‘n hewige storm wat skade in verskeie gebiede aangerig het. Owerhede sê nooddienste is ontplooi om die situasie te evalueer en bystand aan die betrokke gemeenskappe te verleen. Inwoners in laagliggende gebiede word aangemoedig om versigtig te wees, aangesien meer reën verwag word. Die munisipaliteit monitor watervlakke en sal bywerkings verskaf terwyl reddings- en herstelpogings voortduur.
# Die Nulane-korrupsiesaak is uitgestel tot 20 Januarie vir ‘n voorverhoor in die Hooggeregshof in Bloemfontein. Dit volg nadat die Appèlhof beslis het die onskuldigbevinding van die beskuldigdes moet omgekeer word. Dit sluit die sakeman Iqbal Sharma in. Kaizer Kganyago van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle word daarvan aangekla dat hulle met ‘n gemeenskaplike doel opgetree het met die onreëlmatige betaling van 24,9-miljoen-rand aan die Gupta-maatskappy Nulane Investment, vir ‘n uitvoerbaarheidstudie in verband met die Vrede-suiwelplaasprojek:
# Oudpresident Thabo Mbeki sê die uitkoms van die Amerikaanse middeltermynverkiesing kan ‘n aanduiding gee van die Kongres en Senaat se houding teenoor die Verenigde Nasies en internasionale reg. Hy het tydens die Afrika- en Afrika-diaspora-konferensie in Boksburg, Gauteng, gesê dit sal moontlik nie voldoen aan wêreld-verwagtinge nie en die huidige situasie kan onveranderd bly. Mbeki vra die internasionale gemeenskap om die verwikkelings ná die verkiesing dop te hou en sê die uitkoms sal nie noodwendig toon hoe Amerika toekomstige internasionale betrekkinge en multilaterale samewerking benader nie.
# Tennis: Die Switserse veteraan Stan Wawrinka het sy beroepsloopbaan na 24-jaar beëindig. Die 41-jarige het sy laaste wedstryd gespeel in die Basel-ope in sy vaderland, waar hy teen die Tsjeg Jiří Lehečka verloor het. Wawrinka het in 2002 ‘n beroepspeler geword en drie Grand Slam-toernooie gewen – die Australiese Ope in 2014, die Franse Ope die volgende jaar en die Amerikaanse Ope in 2016. Hy het sy beste wêreldranglysposisie van derde plek in Januarie 2014 bereik. Wawrinka gaan nog in Desember aan ‘n vertoontoernooi in Genéve deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-638-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-54-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad maak gereed om die feestyd op te helder met sy vlagskipgeleentheid, die Feesliggie-aanskakeling, op 29 November. Die gratis geleentheid op die Parade begin die middag 4-uur en spog met ‘n sterbelaaide program wat die kunstenaars Nasty C, Liquideep, Thukuthela, Monique Steyn, Dee Koala en Ricky Vani Frontline insluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê platejoggies en dansers sal ook op die verhoog verskyn:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….