Nuus 13:00
BULLETIN 28 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Suid-Afrikaner word in Amerika vasgetrek vir die besit van beweerde materiaal van seksuele misbruik van kinders
# Rugby: Bongi sien daarna uit om na die Stormers terug te keer na sy afwesigheid van vier jaar
# En prinses Anne besoek Kaapstad volgende week
# ‘n Suid-Afrikaner wat in Amerika werk, is in Oklahoma in hegtenis geneem in verband met beweerde materiaal van die seksuele misbruik van kinders. Grady se balju sê die 42-jarige Vico du Toit is geïdentifiseer nadat inligting aan die Nasionale Sentrum vir Vermiste en Mishandelde Kinders aangemeld is. Ondersoekers beweer hy het die materiaal op die Kik-boodskaptoepassing afgelaai. Du Toit sal na verwagting volgende week voorlopige hofverrigtinge bywoon.
# Die Gautengse wetgewer se komitee oor Gemeenskapsveiligheid verwelkom die twee lewenslange vonnisse vir ‘n 34-jarige man van Eldoradopark wat sy vierjarige dogter verkrag en vermoor het. Hy het skuld beken op aanklag van moord, verkragting, kindermishandeling en aanranding. Woordvoerder Bandile Masuku sê die vonnis stuur ‘n duidelike boodskap dat daar geen genade sal wees vir mense wat misdade teen vroue en kinders pleeg nie:
# Die leierskap van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het gister versuim om in die Parlement te verskyn. Die Ouditeur-generaal raam 41-persent van die departement se instellings het die potensiaal om skoon oudits te ontvang, maar word gekniehalter deur gebrekkige gevolgbestuur, ondoeltreffende monitering van aksieplanne en trae instelling van aanbevelings. Die voorsitter van die gekose komitee oor Onderwys, Wetenskap en die Skeppende Bedrywe, Makhi Feni, sê die afwesigheid toon die ernstige gebrek aan aanspreeklikheid:
# Rugby: Die haker Bongi Mbonambi, wat twee keer die Wêreldbeker gewen het, sien daarna uit om weer ’n bydrae by die Stormers te lewer. Hy keer ná vier jaar terug. Die Haaie het aangekondig dat ‘n gesamentlike ooreenkoms bereik is om sy kontrak met onmiddellike ingang te beëindig, terwyl die Stormers hom ’n jaar-kontrak laat teken het. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Mbonambi sal dadelik ingespan word voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuiswedstryd teen Ulster. Dit het die haker-krisis afgeweer wat ontstaan het weens beserings en ’n skorsing.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-383-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-54-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-14-sent per vat.
# En en slotte: Prinses Anne van Britanje is volgende week in Kaapstad in haar hoedanigheid as president van die Koninklike Landbouvereniging van die Statebond. Sy sal die 31ste Statebond Landbou-konferensie bywoon, wat die volgende geslag boere byeenbring. Anne sal ook aan verskeie geleenthede deelneem om bande tussen Britanje en Suid-Afrika te beklemtoon. Dit sluit in ontmoetings met township-entrepreneurs wat deur die Brittanje-Suid-Afrika-tegnologie-spilpuntprogram ondersteun word, asook ‘n ontmoeting met die laaste bekende Tweede Wêreldoorlog-veteraan in die land.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….