Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na rugby: Die Springbok-haker Bongi Mbonambi het ‘n eenjaar-kontrak met die Stormers gesluit na bevestiging dat hy vrygestel is van sy kontrak met die Haaie. Dit volg op dissiplinêre kwessies. Die Stormers ondervind ‘n haker-krisis omdat André-Hugo Venter, Deon Fourie en Lukhanyo Vokozela beseer is, terwyl JJ Kotzé ‘n skorsing uitdien. Die veteraan-nommer-twee Scarra Ntubeni, wat verlede seisoen uitgetree het, oefen dié week saam met die span en kan oorweeg word in geval van nog ‘n besering voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuiswedstryd teen Ulster.
Nog rugbynuus: Die 37-jarige Kurtley Beale is die eerste keer sedert 2024 terug in die Wallabies se groep. Hy is een van drie spelers wat bygevoeg is vir die Nasieskampioenskap se noordelike reeks. Beale, wat al in 95 toetse uitgedraf het, vervang Hunter Paisami wat om persoonlike redes nie beskikbaar is nie. James Ramm, wat nog nie toetsrugby gespeel het nie, en Kalani Thomas is ook in die toergroep. Australië pak Engeland volgende maand op Twickenham, gevolg deur wedstryde teen Skotland en Wallis voor die eindronde in Londen.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, het vier wedstrydpunte afgeweer voor hy die Spanjaard Martin Landaluce kon klop en die Weense Ope se ronde van 16 te haal. Indien die Duitser die kwarteindronde haal, sal hy Maandag die eerste keer in sy loopbaan nommer een wees wanneer hy die Italianer, Jannik Sinner, onttroon. Die sewemalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het in die eerste ronde met Karen Khachanov van Rusland afgereken. Flavio Cobolli van Italië en die Amerikaner Tommy Paul is ook deur na die ronde van 16.
Die Switserse veteraan Stan Wawrinka het intussen sy beroepsloopbaan na 24-jaar beëindig. Die 41-jarige het sy laaste wedstryd gespeel in die Basel-ope in sy vaderland, waar hy teen die Tsjeg Jiří Lehečka verloor het. Wawrinka het in 2002 ‘n beroepspeler geword en drie Grand Slam-toernooie gewen – die Australiese Ope in 2014, die Franse Ope die volgende jaar en die Amerikaanse Ope in 2016. Hy het sy beste wêreldranglysposisie van derde plek in Januarie 2014 bereik. Wawrinka gaan nog in Desember aan ‘n vertoontoernooi in Genéve deelneem.
# En laastens, sokker: Frankryk en Real Madrid se voorspeler, Kylian Mbappé, het verskoning gevra vir wat hy beskryf as sy swak oordeel nadat hy beskuldig is dat hy China en Chinese mense beledig het. Hy het die Chinese leier, wyle Mao Zedong, ‘n diktator genoem. Dit het veroorsaak dat Mbappé handelsmerk-borgskappe van drie Chinese maatskappye kwyt is: die drankie-vervaardiger Dongpeng, die suiwelreus Mengniu en die kaasmaker Milkground. Mbappé sê dit was nie sy bedoeling om enigiemand seer te maak nie en beklemtoon dat hy groot respek het vir die Chinese mense en hul geskiedenis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….