Nuus 13:00
BULLETIN 27 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK sê stembriewe sal teen Vrydag gereed wees ná ‘n hofuitspraak
# Die voormalige FBI-direkteur James Comey word ‘n derde keer aangekla
# En krieket: Steve Smith onttrek aan Australië se span vir die derde toets teen Suid-Afrika op Nuweland
# Die Verkiesingskommissie mik daarna om al die stembriewe teen Vrydag gereed te hê vir volgende week se plaaslike regeringsverkiesing. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het aan eNCA gesê miljoene stembriewe moet herdruk word ná die Konstitusionele Hof se uitspraak ten gunste van die ANC. Die party het die uitsluiting van sy kandidate betwis nadat kandidatelyste nie betyds ingedien is nie. Mamabolo sê die OVK jaag om stembriewe betyds te herdruk:
# President Cyril Ramaphosa het die paneel se verslag ontvang oor die vloot-oefening Will of Peace. Hy het die paneel in Februarie aangestel om ondersoek te doen na die omstandighede rondom die oefening, gelei deur China, in Valsbaai in die Wes-Kaap. Dit het gevolg op kommer dat sy opdrag om die Iranse Vloot te laat onttrek, nie nagekom is. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die paneel se werk en verslag sal om nasionale veiligheidsredes vertroulik bly:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het die voormalige direkteur van die FBI, James Comey, ‘n derde keer aangekla. Hy het na bewering in 2016, toe hy nog hoof van die FBI was, vertroulike inligting aan New York Times bekend gemaak. ‘n Vorige saak oor sy getuienis voor die Amerikaanse Kongres is verlede jaar van die rol geskrap. Comey word ook aangekla dat hy president Donald Trump gedreig het. Hy hou vol hy is onskuldig:
# Krieket: Die voormalige Australiese kaptein, Steve Smith, loop die derde toets teen Suid-Afrika op Nuweland in Kaapstad mis, waar hy in 2018 by die berugte skuurpapier-skandaal betrokke was. Hy het sy nek beseer tydens die tweede wedstryd in Gqeberha, wat die Proteas oortuigend gewen het om die reeks gelykop te maak. Die snelbouler Gerald Coetzee speel sy eerste toets in twee jaar in die plek van die beseerde Anrich Nortjé. Australië se kaptein, Pat Cummins, het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Suid-Afrika se etenstyd-telling was 140 sonder verlies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-588-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Johannesburg en Kaapstad is volgens ‘n opname onder die wêreldstede waar datasentrums die goedkoopste opgerig kan word. Ander Afrika-stede op die lys sluit in Lagos in Nigerië en Nairobi in Kenia. Navorsing deur Turner & Townsend skryf dit toe aan laer arbeidskoste, toegang tot grond en verbeterde plaaslike voorsieningskettings, wat toenemende belangstelling van beleggers lok. Die verslag waarsku egter ‘n tekort aan krag en kundige werkers is steeds groot struikelblokke. Die groeiende vraag na kunsmatige intelligensie en wolk-dienste vuur beleggings in datasentrums aan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….