Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Engeland se kaptein en Bayern Munich se doelskopper, Harry Kane, het die eerste Britse speler sedert Michael Owen in 2001 geword om die gesogte Ballon d’Or te verower. Kylian Mbappé van Frankryk en Lamine Yamal van Spanje was tweede en derde. Kane het verlede seisoen 73 doele aangeteken en is ook die beste doelskopper. Die Spaanse middelveldspeler Alexia Putellas ewenaar die rekord deur die derde keer die vroue-Ballon d’Or te wen. Luis de la Fuente van Spanje is die mans-afrigter van die jaar.
# Rugby: Die Haaie sal sonder hul kaptein, André Esterhuizen, die stut Phatu Ganyane en die senter Jurenzo Julius moet klaarkom in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster in Ierland. Hulle is verlede week beseer in die bonuspunt-oorwinning van 36-21 oor Cardiff. Esterhuizen het sy regterenkel beseer, Ganyane sy regterelmboog en Julius sy agterknie-sening. Die groep word versterk met die stut Cameron Dawson, die vleuel Litelihle Bester en die agterspeler Suleiman Hartzenberg, wat Sondag by die span aangesluit het.
Die All Blacks se hoofafrigter, Dave Rennie, het intussen ‘n sterk groep van 36 aangewys vir volgende maand se Nasieskampioenskaps-wedstryde in Europa. Codie Taylor is kaptein in die toetse teen Skotland, Wallis en Engeland. Die Highlanders se loskopstut, Saula Ma’u, en die Chiefs se losskakel, Josh Jacomb, is die enigste nuwelinge. Verskeie spelers keer terug nadat hul vanjaar toetse misgeloop het, insluitend Jordie Barrett en Richie Mo’unga. Rennie is tevrede met die groep se balans:
# Gholf: Graeme McDowell van Noord-Ierland is die jongste speler om sy vertrek van LIV Gholf aan te kondig. Die major-kampioen volg in die voetspore van Jon Rahm, Louis Oosthuizen, Ian Poulter en Tyrrell Hatton. McDonald het nie redes of sy toekomsplanne bekendgemaak nie. LIV het verlede maand in Amerika aansoek gedoen om bankrotskap-beskerming nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. Die liga het moontlike befondsing van BC Partners Credit bekom en wil volgende jaar voortgaan met ‘n nuwe formaat, LIV 2.0.
# En tennis: Die tweemalige kampioen, Jannik Sinner, beplan om in Desember deel te neem aan die herskeduleerde Six Kings Slam in Riaad, Saoedi-Arabië. Die Italianer het weens ‘n kniebesering in Julie laas op Wimbledon gespeel. Sinner het aanvanklik onttrek aan die toernooi, wat hierdie maand sou plaasvind. Dit is egter tot laat in Desember uitgestel weens dodelike aanvalle in Saoedi-Arabië, en Sinner sal dan kan deelneem. Spelers soos Alexander Zverev, Carlos Alcaraz en Novak Djokovic sal ook daar wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….