Nuus 11:00
BULLETIN 27 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ambassadeur Meyer sê die gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika moet dringend herstel word
# Die DA vra ‘n dringende parlementêre ondersoek na chroniese medisyne-tekorte
# En rugby: Esterhuizen is een van drie beseerde Haaie op die kantlyn vir die VRK-kragmeting met Munster
# Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Roelf Meyer, erken dat die diplomatieke betrekkinge tussen die twee lande onder druk verkeer en van albei kante dringend moet aandag kry. Spanning tussen Pretoria en Washington het onlangs toegeneem nadat die Amerikaanse regering nuwe visumbeperkings aangekondig het teen mense wat hy beskuldig van betrokkenheid by rassediskriminasie en grond-onteiening sonder vergoeding. Meyer het aan die Kaapstadse Persklub gesê die verhouding strek verder as politiek en diplomasie en het ‘n regstreekse uitwerking op Suid-Afrika se ekonomiese groei, beleggingsvooruitsigte en indiensneming.
# Die DA sê tot 50 noodsaaklike medisynes is nie in die openbare gesondheidsorgstelsel beskikbaar nie, insluitend behandelings vir hoë bloeddruk, diabetes en geestesgesondheidstoestande. Die party dring aan op ‘n dringende parlementêre ondersoek na die tekorte. Michele Clarke van die DA waarsku pasiënte kan gesondheidsrisiko’s ervaar indien hulle nie hul gereelde medikasie kry nie, of sukkel met soortgelyke medisyne:
# Die polisie het die afgelope week 17-duisend-914 verdagtes tydens landwye misdaadbestrydingsoperasies aangekeer, te midde van voorbereidings vir die feestyd. Hulle het ook 267 vermeende dwelmhandelaars in hegtenis geneem, twee geheime dwelmlaboratoriums in Gauteng en Noordwes gesloop en beslag gelê op kokaïen van meer as 200-miljoen-rand op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng wat uit Brasilië aangekom het. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die operasies is gemik op misdaadbekamping en beter veiligheid:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, is bekommerd oor Israelse setlaargeweld en -uitbreiding aan die Wesoewer. Dit volg nadat Israel die gebied afgesper het ná ʼn dodelike aanval op sy soldate in Hebron. Die Israelse inval het die sloping van huise en handels-eiendomme ingesluit, asook beperkings op beweging, wat baie Palestyne tot hul huise of onmiddellike woonbuurte beperk. Guterres sê hierdie maatreëls kan neerkom op etniese suiwering:
# Rugby: Die Haaie sal sonder hul kaptein, André Esterhuizen, die stut Phatu Ganyane en die senter Jurenzo Julius moet klaarkom in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster in Ierland. Hulle is verlede week beseer in die bonuspunt-oorwinning van 36-21 oor Cardiff. Esterhuizen het sy regterenkel beseer, Ganyane sy regterelmboog en Julius sy agterknie-sening. Die groep word versterk met die stut Cameron Dawson, die vleuel Litelihle Bester en die agterspeler Suleiman Hartzenberg, wat Sondag by die span aangesluit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-513-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….