Nuus 17:00
BULLETIN 26 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering werk om die waterkrisis op te los
# Die Wes-Kaapse regering word gevra om rekenskap te gee oor die impak van ontplooiings teen bendes
# En, Uganda stel een-en-twintig-dae kwarantyn in weens vrese oor Ebola
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die nasionale, provinsiale en plaaslike regering werk saam om die waterkrisis op te los. Tydens ‘n toespraak in Bronkhorstspruit, in Tshwane, het Mashatile gesê die prioriteit is om te verseker dat inwoners toegang tot skoon water het. Hy het gesê ‘n watertaakspan is op die been gebring om uitdagings aan te spreek, insluitend waterverliese wat deur verouderde munisipale infrastruktuur veroorsaak word. Mashatile het die vertroue uitgespreek voortdurende ingrypings sal help om die krisis op te los, en terselfdertyd watervoorsiening regoor die land sal verbeter:
# Die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op ‘n dringende hersiening van teenbende-operasies met bendegeweld voortduur ten spyte van die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Dit volg op ‘n skietvoorval in Steenberg die afgelope naweek, waarin vyf mense dood en drie ander gewond is. Benedicta van Minnen van die party sê meer as 500 mense is na bewering tussen Augustus en Oktober in Kaapstad doodgeskiet:
# Die DA sê aanhoudende probleme met die lugversorging in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Tshwane het die tweede keer in minder as ‘n jaar tot vertragings van groot ortopediese operasies gelei. Die DA-lid, Madeleine Hicklin, sê pasiënte wat heupvervangings en operasies vir frakture benodig, moes langer wag omdat teaters te warm is. Sy beweer ‘n pasiënt se gesondheid het verswak weens die herhaalde uitstel. Hicklin sê ‘n ander gesin se ma is aan sepsis dood na sy vyf weke vir ‘n heupvervanging moes wag:
# Uganda het ‘n 21 dae kwarantyntydperk ingestel vir burgers wat uit die Demokratiese Republiek die Kongo terugkeer terwyl die land sy voorsorgmaatreëls teen Ebola verskerp. Die minister van Gesondheid, Chris Baryomunsi, sê terugkerende inwoners sal hul eie kwarantynkoste betaal. Uganda het in Julie verklaar sy Ebola-uitbreking is beëindig, maar kommer neem toe na gevalle in Kenia en Nigerië aangemeld is by persone wat deur Uganda gereis het. Owerhede ondersoek ‘n moontlike verband tussen gevalle, hoewel die bron van die besmetting in Nigerië nog nie vasgestel is nie. Sifting is intussen verskerp op lughawens en grensposte.
# Rugby: Fidji se nuwe afrigter, Jake White, glo hulle kan ‘n gedugte krag wees in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië mits hy beheer en struktuur by hul natuurlike aanvoeling kan voeg. Hulle het Japan Saterdag 34-28 geklop in sy eerste wedstryd in beheer. Japan word afgerig deur Eddie Jones, wat White se tegniese raadgewer was toe hy die Springbokke in 2007 na Wêreldbeker-glorie gelei het. Albei lande vertrek nou na Europa vir die Nasieskampioenskap. Fidji speel teen Frankryk, Ierland en Italië, en Japan teen Wallis, Engeland en Skotland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-263-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-19-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 115-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….