Nuus 16:00
BULLETIN 26 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane se burgemeester beloof optrede oor die waterbesoedelingskrisis
# Die Bloeddiens waarsku sy bloedvoorraad het tot 3,9-dae gedaal
# En ‘n Australiese moordenaar verloor ‘n hofstryd om Vegemite in die tronk te eet
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê die metro sal optree teen amptenare wat nalatig was ten opsigte van die waterbesoedelingskrisis in Bronkhorstspruit. Sy het tydens ‘n besoek aan die gebied gesê interne en eksterne ondersoeke sal fokus op die tekort aan chloor, gebrekkige kommunikasie en die besluit om nie die betrokke aanleg te sluit nie. Moya sê die belangrikste is nou om inwoners te beskerm, besmettings te beperk en werk aan die aanleg te voltooi:
Nog gesondheidsnuus: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens waarsku die bloedvoorraad het tot slegs 3,9-dae gedaal teenoor die teiken van vyf-dae. Die diens benodig daagliks sowat drie-duisend-500 eenhede, maar daar is nie genoeg skenkings nie. In sommige streke is minder as drie dae se voorraad beskikbaar, terwyl die O-bloedgroep onder besondere druk verkeer. Die feestyd kom nader en die behoefte aan bloed vir operasies, bevallings, kankerbehandeling en noodoortappings bly groot. Die senior bestuurder, Monique Schreiner, vra mense om bloed te skenk om die voorraadvlakke te herstel en sê elke skenking red lewens.
# Die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, vra vroue en gemeenskappe om korrupsie, intimidasie, geweld en misdadige bedrywighede sonder vrees aan te meld. Sy het in Durban aangesluit by vroueleiers, politieke groeperings, geloofsgebaseerde organisasies en die burgerlike samelewing tydens die KwaZulu-Natalse verkiesingsvredesgebed. Die departement se woordvoerder, Palesa Rammitlwe, sê Kubayi het beklemtoon dat haat, intimidasie, politieke onverdraagsaamheid en elke vorm van geweld verwerp moet word:
# Rugby: Die nuwe sewes-wêreldreeks begin die laaste naweek van November in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Dit word ‘n week later gevolg deur die toernooi in Kaapstad, asook toernooie in Singapoer, Perth in Australië en Vancouver in Kanada, met die reeks wat in New York ten einde loop. Die wêreldkampioenskapstoernooie vind in April in Hongkong plaas, en in Mei in Valladolid in Spanje en Bordeaux, Frankryk. Suid-Afrika het verlede seisoen albei reekse gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-150-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-17-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 115-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Veroordeelde Australiese moordenaar het ‘n hofstryd verloor om Vegemite in die tronk toegelaat te kry, met die betoog dat die verbod sy kulturele regte skend. Andre McKechnie, wat ‘n lewenslange vonnis uitdien, het die jare lange verbod in die Hooggeregshof van Victoria betwis. Regter Claire Harris het beslis dat die beperking op grond van veiligheid geregverdig is. Tronkowerhede sê die sout gis-smeer kan honde wat dwelms opspoor, verwar en gebruik word om onwettige alkohol te maak. Vegemite word sedert 2006 in tronke in Victoria verbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….