Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith het ‘n driejaar-kontrak by die Bulle onderteken. Die tweemalige Wêreldbeker-wenner het onlangs ʼn agtjaar-termyn by Shizuoka Blue Revs in Japan voltooi. Hy het in Mei ʼn ernstige kniebesering opgedoen en is die res van die seisoen buite aksie. Dit beteken die 33-jarige speler maak sy Bulle-buiging eers vroeg in die nuwe jaar. Smith sê hy is opgewonde om by die span aan te sluit en sê een van sy beste ervarings was om voorheen onder afrigter Johan Ackermann by die Leeus te speel.
Die Springbokke is intussen bekommerd oor die fiksheid van die veelsydige André Esterhuizen. Hy het Saterdag vroeg in die wedstryd sy voet beseer toe hy die Haaie aangevoer het in ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Cardiff in Wallis. Sy span het voortgegaan en 36-21 gewen. Die Haaie se slot, Stephan Lewies, het vroeër gesê die meeste spelers hou nie van kunsmatige oppervlakke soos op Cardiff Arms Park nie omdat talle beserings daarop plaasvind. Die Springbokke pak Italië, Frankryk en Ierland in volgende maand se Nasieskampioenskapstoetse in Europa.
# Krieket: Suid-Afrika sal sonder die snelbouler Anrich Nortjé moet klaarkom in die derde en laaste toets teen Australië wat môre in Kaapstad begin. Hy is beseer tydens die tweede toets in Gqeberha. Gerald Coetzee is die geskikste plaasvervanger, maar het byna twee jaar laas ‘n toets gespeel, en die veelsydige Corbin Bosch kan ook oorweeg word. Afrigter Shukri Conrad kan dalk ook ’n stadiger bouler inspan soos die linkshandige draaibouler en veelsydige Senuran Muthusamy. Die reeks is tans gelykop met een-elk.
Australië se paaltjiewagter, Alex Carey, sê intussen hulle wil hul kolfwerk verbeter en ‘n spanpoging aanwend om lopies aan te teken in die beslissende toets teen die Proteas. Hulle eerstebeurttelling van 99 in die tweede toets was hul laagste sedert 2016. Afrigter Andrew McDonald sê die kolwers kon nie die druk lank genoeg weerstaan om aanslag te bied nie. Carey erken hul kolfwerk was nie op standaard nie:
# En motorsport: Die Italianer Kimi Antonelli is ʼn treetjie nader aan sy eerste Formule Een-bestuurderskampioenskaps-titel nadat hy die Amerikaanse Grand Prix gewen het. Charles Leclerc van Ferrari was tweede en Max Verstappen van Red Bull derde. Lewis Hamilton van Ferrari was vierde en Antonelli se Mercedes-spanmaat, George Russell, agste om teoreties in die titelstryd te bly. Antonelli kan Sondag in Mexiko-stad die titel beklink as hy onder die voorste nege eindig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….