Nuus 08:00
BULLETIN 26 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pule sê ‘n vreedsame verkiesing hang af van verantwoordelike leierskap, samewerking en aktiewe deelname
# Julius Malema sê dis belangrik om te stem om verandering mee te bring
# En, meer as 200-miljoen-rand se onverwerkte kokaïen is by die OR Tambo Internasionale Lughawe onderskep
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, vra Suid-Afrikaners om vrede, verdraagsaamheid en respek vir demokratiese regte te bevorder in die komende plaaslikeregeringsverkiesing. Sy het gister by die Women United for Peace-gebedsbyeenkoms in die Durbanse stadsaal in KwaZulu-Natal gepraat. Sy vra politieke leiers, gemeenskappe en geloofsgebaseerde organisasies om saam te werk teen geweld, intimidasie en haat. Pule sê dis belangrik om seker te maak vroue kan sonder dreigemente, intimidasie of geweld deelneem aan politieke en gemeenskapsaktiwiteite:
EFF-leier Julius Malema sê intussen die vierde November bied elke stem ‘n geleentheid om verandering te eis en plaaslike regerings aanspreeklik te hou. Hy het gister in aanloop tot die verkiesing sy veldtog in Thembisa, Gauteng, gevoer. Die party het burgemeesterskandidate in Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni. Malema belowe om onder ʼn EFF-geleide regering arm huishoudings vry te stel van munisipale belasting en dienslewering-heffings. Hy beloof ook om beweerde nepotisme in munisipale werwing te beëindig.
# ʼn Multidissiplinêre span wetstoepassers het by die OR Tambo Internasionale Lughawe beslag gelê op 250 kilogram kokaïen met ʼn geraamde straatwaarde van meer as 200-miljoen-rand. Die dwelms het gistermiddag op ʼn vlug van Sao Paolo, Brasilië, hier aangekom, met die 216 blokke in vyf tasse verpak. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die jongste beslaglegging kom te midde van volgehoue pogings om dwelmhandel deur die lughawe te bekamp:
# Brasilië se linkse president, Luiz Inácio Lula da Silva, is vir ʼn vierde nie-agtereenvolgende termyn verkies nadat hy sy regsgesinde teenstander en Trump-bondgenoot, Flávio Bolsonaro, in die herstemming geklop het. Die 80-jarige Lula het 51,75-persent van die stemme gekry teenoor sy 45-jarige teenstander se 48,25-persent. Dis die eerste keer sedert 1989 dat ʼn kandidaat die presidentskap wen nadat hy in die eerste rondte tweede gekom het. Lula het in sy oorwinningstoespraak beloof om die manier waarop hy die land regeer te verander, en openbare deelname in besluitneming uit te brei.
# Motorsport: Die Italianer Kimi Antonelli is ʼn treetjie nader aan sy eerste Formule Een-bestuurderskampioenskap-titel nadat hy by die Amerikaanse Grand Prix uit die eerste wegspringplek ʼn oorwinning behaal het. Ferrari-renjaer Charles Leclerc was tweede en Max Verstappen van Red Bull derde. Die Mercedes-bestuurder se naaste teenstanders, Lewis Hamilton van Ferrari, was vierde en spanmaat George Russell agste om teoreties in die stryd te bly. Antonelli, wat Sondag in Mexiko-stad die titel sal opraap indien hy onder die top-nege eindig, sê hy het dié uitslag nodig gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-600-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-14-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….