Nuus 06:00
BULLETIN 26 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa glo die ANC sal baie hê om te vier ná die verkiesing
# Die Amerikaanse prokureur-generaal ontken bewerings dat Trump die middeltermynverkiesing wil ondermyn
# En krieket: Coetzee en Bosch is moontlike plaasvervangers vir Nortjé
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa het vertroue uitgespreek in die party se verkiesingsvooruitsigte vir die plaaslikeregeringsverkiesing en gesê dat daar sal baie wees om te vier ná die verkiesing op 4 November. Hy het gister gepraat tydens ‘n deur-tot-deur-veldtog in Soweto. Daar word verwag dat Soweto ‘n belangrike strydveld in die verkiesing sal wees. Ramaphosa het ook die ANC se rekord van 32 jaar in die regering verdedig en gesê die party het beduidende transformasie en ontwikkeling teweeggebring:
# Die Departement van Landbou sê die regering werk daaraan om ‘n breër nasionale reaksie op voedselonsekerheid en wanvoeding te koördineer. Waarnemende Direkteur Thulile Dlamini sê voedingsverwante oplossings is in al drie doelwitte van die tweede hersiening van die Nasionale Voedsel- en Voedingsekerheidsplan opgeneem. Dlamini sê die landbousektor spreek die onderliggende oorsake van wanvoeding aan deur voedselbeskikbaarheid en -toeganklikheid te verbeter. Dit sluit in die bevordering van diverse boerderystelsels, die ondersteuning van voedsame en inheemse gewasse, en die versekering van landbouondersteuningsprogramme wat sensitief is vir voedingsbehoeftes.
# Die vakbond GIWUSA vra ‘n noodplan vir werkskepping om die stygende werkloosheid en grootskaalse afleggings in sleutelsektore van die ekonomie aan te spreek. Die president van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê dringende ingryping is nodig om werksgeleenthede te beskerm en werkers te ondersteun wat geraak word deur afleggings in die motor-, metaal-, voedsel- en konstruksiebedrywe. Hy kritiseer ‘n ekonomiese stelsel wat volgens hom wins bo mense stel, en dring aan op groter beleggings in produksie en die skep van werksgeleenthede:
# Die Wes-Kaapse polisie loof ‘n beloning van 100-duisend-rand uit vir inligting wat kan lei tot die arrestasie en skuldigbevinding van diegene wat verantwoordelik was vir die dood van vyf mense in Lavender Hill oor die naweek. Gewapende mans het op ‘n huis in die gebied toegeslaan en vier mans en ‘n vrou doodgeskiet, terwyl drie ander gewond is. Die Teenbende-eenheid ondersoek die voorval, met bende-geweld wat moontlik ‘n motief was. Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Sizakhele Dyantyi, sê dit kan nie as normaal beskou word dat mense in groot getalle vermoor word in die gemeenskappe waar hulle woon nie.
# Die Amerikaanse prokureur-generaal,Todd Blanche, het bewerings ontken dat president Donald Trump beplan om die uitslae van volgende maand se middeltermynverkiesing te ondermyn. Dit volg nadat die Departement van Justisie ’n regsgeding aanhangig gemaak het om die sertifisering van Alaska se Senaatsverkiesing te blokkeer, sou die sittende Republikeinse senator, Dan Sullivan, verloor. Daar word voorspel dat die Republikeinse Party beide die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat sal verloor. Blanche het aan CNN gesê die departement werk nie saam met enige veldtog of kandidaat om ‘n regsgeding in te dien nie:
# Krieket: Suid-Afrika sal vir die derde en laaste toets teen Australië in Kaapstad, wat môre begin, sonder die snelbouler Anrich Nortjé moet klaarkom. Hy het tydens die tweede toets in Gqeberha ’n liesbesering opgedoen. Gerald Coetzee is die geskikste plaasvervanger, maar hy het byna twee jaar lank nie in ’n toets gespeel nie. Die veelsydige speler Corbin Bosch is ook ’n opsie. Die Protea-afrigter, Shukri Conrad, kan dalk ook kies om ’n stadiger bouler in te span, met die linkshandige draaibouler en veelsydige speler Senuran Muthusamy as ’n moontlikheid. Die reeks is in die weegskaal met albei spanne wat elk voor die laaste toets een oorwinning behaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-366-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-2-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….