Nuus 16:00
BULLETIN 23 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dieselpryse kan dalk volgende maand daal, maar die petrolsituasie is onseker
# Suid-Korea hernu sy aanbod oor militêre gesprekke met Noord-Korea
# En sokker: Amerika gaan die heel eerste FIFA Vroue Klubwêreldbeker-toernooi in 2028 aanbied
# Dieselpryse kan volgende maand aansienlik daal, maar die situasie met petrolpryse is steeds onseker. Dit volg op die regering se besluit om brandstofheffings tydelik te verlaag. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Woensdag ‘n verlaging van drie-rand per liter vir diesel en een-rand-50 sent vir petrol aangekondig. News24 berig dat data van die Sentrale Energiefonds aandui dat dieselpryse begin November met ongeveer een-rand-70 sent per liter kan daal, terwyl petrolpryse onveranderd kan bly of met ‘n maksimum van 23-sent per liter kan daal.
# Die vakbond Solidariteit is gekant teen die regering se plan om meer as 88-miljard-rand se onopgeëiste geld, waaronder pensioenfondse, te sentraliseer. Die Nasionale Tesourie werk tans aan ‘n raamwerk om dit makliker te maak om onopgeëiste fondse terug te eis. Marius Croucamp van Solidariteit sê dit kan veroorsaak dat die staat beheer verkry oor geld wat aan privaat individue behoort. Hy sê Solidariteit sal verdere stappe doen om begunstigdes se regte te beskerm:
# Die Wes-Kaapse regering het ‘n tegniese skoleprogram van 127-miljoen-rand van stapel gestuur om leerders met praktiese vaardighede en bedryfsgerigte opleiding toe te rus en hul kanse op indiensneming te verbeter. Die program word in ses skole ingestel, met meer as ses-duisend leerders en 137 onderwysers wat deelneem. Die LUR vir Onderwys, Jaco Londt, sê die program sal drie jaar duur, met die eerste groep leerders wat na verwagting in 2028 matriek sal voltooi:
Nuus uit die buiteland:
# Suid-Korea het weereens militêre gesprekke met Noord-Korea voorgestel om die lande se betwiste landsgrens te verduidelik en die risiko van toevallige botsings te verminder. Die voorstel volg na ‘n landmynontploffing verlede maand in die Gedemilitariseerde Sone, waarin drie Suid-Koreaanse soldate beseer is. Seoul sê Noord-Koreaanse soldate het die militêre afbakeningslyn oorgesteek terwyl hulle paaie en heinings gebou en myne naby die grens gelê het. Pyongyang ontken aanspreeklikheid vir die voorval. Die Noorde het verlede jaar ‘n soortgelyke voorstel ignoreer.
# Sokker: Amerika gaan in Januarie 2028 die gasvrou wees vir die eerste Klub-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Neëntien spanne gaan deelneem en sewe klubs het reeds gekwalifiseer deur die afgelope twee seisoene kontinentale toernooie te wen. Die lys sluit in die Engelse Vroue-superliga-span Arsenal, die huidige Europese kampioen, Barcelona van Spanje, en Corinthians van Brasilië. FIFA se hoof van vrouesokker, Sarai Bareman, sê Amerika se onlangse uitstekende aanbieding van top-FIFA-toernooie, tesame met die groot belangstelling in vrouesokker en die land se uitstekende sportinfrastruktuur, maak dit die vanselfsprekende keuse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-576-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-28-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 116-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….