Nuus 12:00
BULLETIN 23 October 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA waarsku oor ‘n verergerende waterkrisis in Gauteng
# Die EU vra groter samewerking met Suid-Afrika oor belangrike minerale en groter energie-oordrag
# En rugby: Vyf Springbokke is terug in die Haaie se opdrafspan vir vanaand se kragmeting met Cardiff
# Die DA in Gauteng is bekommerd oor die groeiende waterkrisis in die provinsie. Dalende watervlakke in Rand Water se Vlakfontein-reservoir bedreig watervoorsiening aan Benoni, Daveyton en Etwatwa. Gemeenskappe in Johannesburg wat deur die Kommando-stelsel bedien word, ervaar herhaaldelike onderbrekings. In Tshwane kan inwoners van Bronkhorstspruit nie kraanwater gebruik nie want dis besoedel. DA-woordvoerder Stephen Moore sê nog ’n groot kragonderbreking of gebreekte pompe kan die huidige ernstige situasie in ’n veel groter krisis omskep:
# Die Padvragvereniging sê die brandstofheffing-verligting is welkom, maar Suid-Afrika se padvragsektor moet gereedmaak vir voortgesette prysdruk terwyl die oorlog in die Midde-Ooste voortduur. Die heffing word van 4 November tot 1 Desember verlaag met drie-rand per liter vir diesel en een-rand-50-sent vir petrol. Uitvoerende hoof Gavin Kelly sê die belangrike vraag is of die tydelike verligting in die komende maande volgehoue verligting sal bring vir vervoeroperateurs:
# Die Europese Unie se nuwe ambassadeur in Suid-Afrika, Kristian Schmidt, sê die verhouding met die land kan gebruik word om plaaslike mineraalverwerking te bevorder. Die EU bly die land se grootste bron van regstreekse buitelandse belegging, met wedersydse handel wat verlede jaar 851,71-miljard-rand beloop het. Schmidt sien ook groot moontlikhede vir samewerking op ander gebiede wat met energie-oordrag verband hou. Hy sê die EU se verhouding met Suid-Afrika sal gegrond wees op dialoog en samewerking eerder as op dwang.
# Rugby: Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, het drie Springbokke teruggebring in die beginspan vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met Cardiff in Wallis. André Esterhuizen is terug as kaptein ná ‘n verpligte ruskans tydens verlede Saterdag se oorwinning van 40-33 oor Lyon in die Uitdaagbeker. Ethan Hooker en Edwill van der Merwe is die vleuels. Twee ander Bokke, die stutte Ox Nché en Thomas du Toit, sal op die bank wees. Die lostrio bestaande uit Manu Tshituka, Matt Romao en Nick Hatton bly onveranderd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-17-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 114-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die kommissaris van die Madlanga-kommissie, Sesi Baloyi, sê die media het enorme magte en verantwoordelikhede, maar dit moet regverdig, onafhanklik en in openbare belang toegepas word. Die vooraanstaande regsgeleerde het die hooftoespraak gelewer op die redakteursforum SANEF se fondsinsamelings-dinee in Houghton, Johannesburg. Baloyi het die media versoek om nie menings te onderdruk waarmee hul nie saamstem nie, maar ander se reg om te verskil te verdedig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….