Nuus 07:00
BULLETIN 23 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê rompslomp kortwiek beleggings
# Minister Hlabisa sê munisipaliteite moet op die behoeftes van gemeenskappe reageer
# En president Macron verskerp die beperkings op betogings
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana waarsku dat grondwetlike vereistes en burokrasie belegging en ekonomiese groei in Suid-Afrika kan vertraag. Tydens ‘n geleentheid aangebied deur Rand Merchant Bank, het Godongwana beklemtoon struikelblokke wat dit moeiliker maak om projekte aan die gang te kry, moet verwyder word. Hy het gesê die regering streef na hervormings om administratiewe prosesse te vereenvoudig, infrastruktuurontwikkeling te bespoedig en privaat belegging te lok, met nuwe reëls wat munisipale vennootskappe goedkoper en makliker maak:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê munisipaliteite moet op gemeenskappe se behoeftes reageer en bevoeg wees om hul grondwetlike pligte na te kom. President Cyril Ramaphosa het gister die hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering bekendgemaak terwyl die regering ‘n nuwe benadering tot munisipale bestuur en dienslewering wil volg. Hlabisa sê ʼn belangrike fokuspunt sal die 90-dae Plaaslike Regering Oorgangsplan wees om die beleidsraamwerk in praktiese aksie om te skakel. Dit sluit in dat onmiddellike prioriteite geïdentifiseer en verantwoordelikhede en tydlyne vasgestel word:
# Die ANC het sy nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, opdrag gegee om verskoning te vra vir opmerkings wat hy oor vroue gemaak het tydens sy Noordwes-veldtog in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing. In reaksie op ʼn Newzroom Afrika-joernalis se vraag oor seks vir werke, het Mantashe na vroue se geslagsdele verwys. Die ANC sê hy erken ongelyke geslags- en magverhoudings stel vroue steeds bloot aan seksuele uitbuiting. Hy sê partyleiers het ʼn groter verantwoordelikheid om diskriminasie te bekamp en geslagsgelykheid te bevorder.
# Die DA sê die Stad Tshwane moet dringend bevestig of chloortekorte ander watersuiweringsaanlegte geraak het, na drinkwater by die Bronkhorstspruit-aanleg vir etlike weke nie gesuiwer was nie. Cilliers Brink van die party sê hulle het berigte ontvang wat daarop dui ander aanlegte is dalk ook sonder chloor. Brink doen ‘n beroep op die burgemeester Nasiphi Moya om watertoetsresultate bekend te maak en duidelikheid te gee oor die risiko’s vir ander gemeenskappe:
# Die Franse president Emmanuel Macron sê “onwettige” betogings sal in die komende dae verbied word en pak die skuld vir geweld op “opruiende” ultra-linkse groepe en vandale. Betogings oor die toestand van skole en hoë lewenskoste het in landwye geweld en oproer ontaard en meer as twee-duisend mense is die afgelope naweek gearresteer. Owerhede het gister se beplande betogings in Parys, Lyon, Lille en Grenoble verbied. Macron sê betogings wat deur erkende groepe soos vakbonde gereël is, mag voortgaan. Hulle roetes sal moontlik gewysig word om sakeondernemings te beskerm.
# Rugby: Die Bulle gaan ʼn paar weke sonder die Springbok-skrumskakel, Embrose Papier, moet klaarkom nadat hy geopereer is. Die 29-jarige speler het verlede Saterdag ʼn enkelbesering opgedoen in die Bulle se 56-20 Kampioene-beker-oorwinning oor Stade Français. Papier se afwesigheid laat Paul de Wet en Zak Burger as skrumskakel-opsies vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen Ulster op Loftus. De Wet dra die nommer-nege-trui saam met losskakel Handré Pollard. Afrigter Johan Ackermann behou sy begin-agterlyn onveranderd, ten spyte van groot veranderinge aan die voorspelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-187-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-8-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….