Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokke gaan volgende maand se Nasieskampioenskap-toetse speel sonder hulle ster-vleuel Cheslin Kolbe, wat vroeg verlede maand sy kakebeen gebreek het in die derde toets teen die All Blacks. Sy streekspan, die Stormers, het bevestig hy sal eers in Desember terugkeer, wanneer hy vir die Kaapstadse span beskikbaar behoort te wees vir die Verenigde Rugbykampioenskap en die Kampioenebeker. Die Bokke speel op 7 Novembere in Turyn teen Italië, gevolg deur wedstryde teen Frankryk in Parys en Ierland in Dublin.
Die haker JJ Kotzé gaan intussen eers weer middel Desember vir die Stormers beskikbaar wees nadat hy vir drie wedstryde geskors is vir sy rooikaart teen Bristol Bears in Kaapstad. Hy is eers met ‘n geelkaart afgestuur, maar dis later opgradeer na rooi. Die Stormers het appelleer teen die voorgestelde skorsing, maar ‘n onafhanklike tugkomitee het dit bevestig na ‘n hersiening. André-Hugo Venter sal die nommer twee-trui dra in Saterdag se tuiswedstryd teen die Walliese span Scarlets.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen keer terug na die DP World-toer na sy besluit om LIV Gholf te verlaat. Die 44-jarige het vyf jaar gelede by LIV aangesluit, maar die liga ondervind ‘n onseker toekoms nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun onttrek het. Oosthuizen sê die besluit was een van die moeilikstes van sy loopbaan nadat sy aansluiting by LIV een van sy bestes was. Hy glo egter ‘n meer buigsame speelprogram sal hom die kans bied om steeds op die hoogste vlak mee te ding.
# Krieket: Engeland se voorste paaltjie-nemer, James Anderson, gaan blykbaar uittree nadat Lancashire besluit het om nie sy kontrak vir volgende seisoen te hernu nie. Die 44-jarige het ‘n seisoen-kontrak van die klub van sy jeug gehad sedert hy in 2024 uit die nasionale span getree het. Anderson was vanjaar Lancashire se kaptein en het 50 paaltjies laat kantel. Indien hy uittree, verlaat hy die spel met een-duisend-193 eersterangse paaltjies, wat hom een van die suksesvolste snelboulers in die geskiedenis maak.
# En tennis: Die deelnemers aan volgende maand se WTA-eindtoernooi in Indian Wells, Amerika, is bevestig toe die Tsjeg Karolina Muchova die agste en laaste plek ingepalm het. Sy het dit vermag toe Marta Kustyuk van Oekraïne moes onttrek tydens die tweede ronde van die Ningbo-ope in China. Muchova sluit aan by Elena Rybakina van Kazakstan, Aryna Sabalenka van Belarus, die Rus Mirra Andreeva, nog ‘n Tsjeg, Linda Noskova, die Amerikaners Coco Gauff en Jessica Pegula, en Elina Svitolina van Oekraïne. Die toernooi begin op 7 November.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….