Nuus 06:00
BULLETIN 22 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie sê daar is vordering met optrede teen 69 munisipaliteite
# Media-organisasies sê die Madlanga-kommissie kan nie opsy geskuif word deur bewerings van vertroulikheid nie
# En rugby: Die Leeus bevestig die oorsaak van Hyron Andrews se dood
# Die Nasionale Tesourie sê van die 69 munisipaliteite wie se nasionale befondsing in Junie opgeskort is omdat hulle versuim het om krediteure te betaal, het 37 ingestem tot terugbetalingsplanne wat deur hul rade goedgekeur is. Teen die einde van Julie is 4,2-miljard-rand aan krediteure betaal. Die Tesourie sal ook oor die volgende drie jaar 3,5-miljard-rand byvoeg om programme vir slimmeters uit te brei; wat daarop gemik is om inkomstevordering te verbeter en noodsaaklike munisipale dienste te finansier. Minister van Finansies Enoch Godongwana sê die regering dwing betalingsverpligtinge af by munisipaliteite en staatsdepartemente:
Die Tesourie het besparings van R13-miljard oor die volgende drie jaar geïdentifiseer deur bedrog in maatskaplike toelaes te verminder. Die regering beplan om soortgelyke verifikasiemaatreëls uit te brei na studentebeurse en behuisingsubsidies. Die kontroles sluit biometriese registrasie en kruisverwysing van regeringsdatabasisse in om duplikaat- of bedrieglike eise op te spoor. Godongwana sê die besparings vorm deel van ‘n groter poging van 38,1-miljard-rand om besteding van lae-prioriteitsprogramme, administratiewe ondoeltreffendhede en bedrog na ander prioriteite te herlei:
# Die media-organisasies, amaBhungane, News24 en Daily Maverick het daarteen gewaarsku om intelligensie-agentskappe toe te laat om te dikteer watter inligting aan die Madlanga-kommissie bekend gemaak word. Dit gaan oor ‘n in camera-aansoek van die hoof van die nasionale intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo. Getuienisleiers het aangevoer dat sy getuienis sensitiewe inligting bevat wat agter geslote deure aangehoor moet word. Die mediahuise sê vertroulikheidseise kan nie die openbare belang in die kommissie se werk opsy skuif nie. Hulle sê ‘n private verhoor kan die kommissie se finale verslag beïnvloed.
# Johannesburg Water doen ‘n beroep op inwoners om hul waterverbruik te verminder, aangesien die hoë vraag druk op die stad se watervoorsieningstelsels plaas. Inwoners word daaraan herinner om by vlak 1-beperkings te hou wat insluit tuine mag nie natgemaak word nie en swembaddens mag nie tussen 06:00 en 18:00 gevul word nie. Die nutsdiens se woordvoerder, Nombuso Shabalala, het inwoners ook aangemoedig om lekkasies en onwettige verbindings aan te meld om sodoende te help om die stad se watervoorsiening te beskerm:
# Die VSA se spesiale gesant, Steve Witkoff, het die Russiese president Vladimir Putin gevra om voorstelle te oorweeg waarop in die Noorweegse hoofstad, Oslo, ooreengekom is, insluitend die hervatting van drieparty-vredesgesprekke met Oekraïne om die oorlog te beëindig. Witkoff het Dinsdag met president Volodymyr Zelensky in Oslo en gister met Putin in St. Petersburg vergader. Zelensky sê hy is gereed vir vredesgesprekke met Moskou. Puin het tot dusver alle voorstelle van Oekraïne en sy Europese bondgenote verwerp om gevegte op die frontlinie te staak en met vredesgesprekke te begin.
# Rugby: Die Leeus sê volgens ‘n nadoodse ondersoek, is die dood van die slot Hyron Andrew veroorsaak deur ‘n skeur in sy aorta. Andrew is verlede Vrydag skielik in ‘n Franse hotel oorlede, kort voor die span se wedstryd teen La Rochelle. Die verklaring sê die Franse owerhede, wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, het die oorsaak as ‘n skeur in die aorta bevestig, wat tot hartversaking gelei het. Die Leeus het besluit om die 31-jarige te huldig deur nie die wedstryd uit te stel nie. Die tuisspan het die wedstryd met 31-14 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-571-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-123-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 111-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….