Nuus 18:00
BULLETIN 21 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering bewillig miljarde om geslagsgeweld te bekamp
# Die DA verwelkom die begrotingsveranderings, maar vra vir meer ambisieuse groeiplanne
# En, ‘n Bronshaai is ná meer as ‘n maand uit ‘n kanaal in Busan gelei
# Die regering het 3,8-miljard rand oor die mediumtermyn toegewys om meer as drie-duisend-500 maatskaplike werkers aan te stel, ten einde die voorkoming van geslagsgeweld en vrouemoord te versterk. Die regering beplan om die aantal howe vir seksuele misdrywe teen 2028/2029 van 55 tot 101 te verhoog, en die aantal Thuthuzela-sorgsentrums van 72 tot 80. ’n Bykomende 157,4-miljoen rand sal aan die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede toegeken word vir toesighouding. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê nog 186-miljoen-rand sal aangewend word om die forensiese en ondersoekvermoë te verbeter:
Intussen sê die DA die regering het vinniger en meer ambisieuse ekonomiese hervormings nodig om groei te bevorder en werksgeleenthede te skep. Die party verwelkom die Nasionale Tesourie se planne om staatskuld te stabiliseer, maar die ekonomiese groeivoorspelling van 1,2-persent is te laag om ‘n betekenisvolle verskil aan werkloosheid te maak. Kingsley Wakelin van die DA doen ‘n beroep op hervormings in die elektrisiteit-, hawe- en spoorwegsektore, sowel as op die vermindering van burokratiese rompslomp, om beleggings te lok:
# En ActionSA meens die tydelike verligting op brandstof wat aangekondig is in die mini-begroting, is nie genoeg om huishoudings wat finansieel onder druk is by te staan nie. Die party verwelkom die bykomende 4,4-miljard-rand vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om belastinginvordering te verbeter. ActionSA kritiseer die regering egter oor die verlaging van die ekonomiese groeivooruitsig na 1,2-persent en sê daar is geen duidelike plan om werkloosheid en armoede aan te pak nie. Alan Beesley van ActionSA sê die regering moet ook sterker optree teen onwettige handel.
# Rugby: Die opkomende Bulle-ster Reinhardt Ludwig het sy kontrak tot die einde van 2030 verleng. Hy het opgang gemaak na hy skool in Pretoria voltooi het, en sy veelsydigheid as flank of slot het al hoe belangriker geword sedert Ruan Nortjé aan die einde van verlede seisoen die span verlaat het. Die 24-jarige Ludwig sê die afrigters en bestuur se vertroue en geloof in hom, beteken vir hom baie. Die uitvoerende hoof, Edgar Rathbone glo Ludwig beskik oor die atletiese vermoë en talent om ’n steunpilaar in die Bulle se beginspan te word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-989-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-132-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 110-dollar-25-sent per vat.
# En, ten slotte, ‘n haai wat ‘n groot trekpleister in die Suid-Koreaanse stad Busan geword het, is uiteindelik uit die kanaal gelei waarin sy langer as ‘n maand vasgekeer was. Owerhede se derde reddingspoging was suksesvol. Nette, drywende platforms en duikers is gebruik om die drie-meter-lange bronshaai, met die bynaam Bukangi, na die uitgang te stuur. Sy is later naby die ingang van die hawe opgemerk. Meer as 1,6-miljoen mense het die waterkant besoek om haar te sien, en amptenare hoop sy sal nou die oop see bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….