Nuus 15:00
BULLETIN 21 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana verlaag die groeivooruitsig na 1,2-persent
# ‘n Veiligheidsagentskap vra ‘n algehele mediaverbod in die verhoor van voormalige intelligensiebeampte
# En sokker: Banyana gaan in Marokko aan die eerste kwalifiserende toernooi vir die Wêreldbeker deelneem
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het Suid-Afrika se ekonomiese groeivoorspelling vir vanjaar van 1,6- na 1,2-persent verminder. Hy het tydens sy mini-begroting gesê groei bly te laag, ondanks die regering se pogings om openbare finansies te bestendig en skuld te verminder. Meer in ons volgende bulletin.
# Activists and Citizens Forum sê alle politieke partye in Tshwane is verantwoordelik vir die waterkrisis in Bronkhorstspruit. Woordvoerder Dennis Bloem sê besoedelde water stel lewens in gevaar, met inwoners wat nie gebottelde water kan bekostig nie en gedwing word om onveilige water te drink. Bloem sê politieke leiers maak beloftes wat nooit verwesenlik word nie en beweer sommige politici en munisipale amptenare trek voordeel uit die watertenkbedryf. Hy vra dringende ingryping om gemeenskappe te beskerm:
# Die Staatsveiligheidsagentskap vra ‘n verbod op alle media-en openbare toegang tydens die verhoor van die voormalige intelligensie-amptenare Thulani Dlomo en Patrick Mshothola in die Hooggeregshof in Pretoria. Hulle staan tereg op aanklagte van korrupsie en die beweerde misbruik van intelligensiefondse. Die agentskap voer aan verrigtinge kan sensitiewe veiligheids-inligting blootlê. Voorstanders van mediavryheid betwis egter die algehele uitsluiting en sê enige beperking behoort slegs op werklik sensitiewe getuienis van toepassing te wees. Die hof sal bepaal hoeveel inligting openbaar gedeel mag word.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Wendy Kaizer-Philander, vra die publiek en die polisie om te help met die beskerming van maatskaplike werkers. Dit volg na nog ‘n kaping van ‘n departementele voertuig in Khayelitsha. Kaizer-Philander sê daar is reeds 20 verslae vir beserings aan diens aangemeld. Sy sê maatskaplike werkers moet hul pligte kan uitvoer sonder vrees dat hulle deur misdadigers geteiken sal word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het beloof om meer as 6,57-miljard-rand te bestee om Republikeinse kandidate te ondersteun voor die belangrike middeltermynverkiesing op 3 November. Die Republikeine het tans ‘n skrale meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat. Die Demokrate het vier bykomende setels nodig om beheer te verkry. Trump sê op Truth Social 4,98-miljard-rand is reeds aan verkiesingsveldtogte bestee om steun vir die Republikeine te werf. Hy noem geloof in sy party en die onluste in Europa as redes hiervoor.
# Sokker: Suid-Afrika se vrouespan gaan van einde November in Marokko deelneem aan die eerste kwalifiserende ronde vir die Wêreldbekertoernooi. Twee van die ses deelnemende spanne sal deurdring na die finale kwalifiserende uitspeelwedstryde in Februarie. Elke span sal drie wedstryde speel. Banyana Banyana kom die 28ste van volgende maand in Rabat teen Taiwan te staan, op 1 Desember teen Ecuador en op 5 Desember teen Oesbekistan. Die ander twee spanne in die toernooi is Ghana en Papoea-Nieu-Guinee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-332-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….