Nuus 12:00
BULLETIN 21 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Waarskuwing oor warmer en droër toestande hierdie somer
# ‘n Australiese LP verloor albei haar bene ná ‘n beweerde geteikende aanval
# En rugby: Die Stormers verwerp JJ Kotzé se voorgestelde skorsing van drie weke
# Die Waterinstituut van Suider-Afrika waarsku oor die verhoogde gevare vir watersekerheid namate Suid-Afrika die somer-reënseisoen betree. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel van nou tot Desember minder reën en hoër temperature oor die grootste deel van die land. Die instituut se uitvoerende hoof, Lester Goldman, sê kundige werknemers word benodig om klimaat-vooruitskattings in doeltreffende besluite oor waterbestuur te omskep. Hy vra munisipaliteite en waterdiensteverskaffers om hul beskikbare hulpbronne te beoordeel, kwesbare infrastruktuur te identifiseer en noodplanne te hersien om voor te berei op moontlike tekorte.
# Die vakbond GIWUSA vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om ‘n staatsgeleide noodplan aan te kondig om werkloosheid teen te wek in vanmiddag se mediumtermyn-begrotingsrede in die Parlement. Die land se amptelike werkloosheidsyfer het in die tweede kwartaal vanjaar tot 33,6-persent gestyg. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die plan moet grootskaalse openbare indiensnemingsprogramme insluit, asook regstreekse staatsbelegging in produktiewe sektore, en ondersteuning vir koöperasies en ondernemings wat deur werkers beheer word:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ʼn advertensie geplaas vir vyf-duisend-500 intreevlak-polisieposte vir die 2026/27-werwings-inname om kwalifiserende aansoekers geleentheid te gee om opgelei te word. Aansoekers moet tussen 18- en 35-jaar oud wees. Woordvoerder Amanda van Wyk sê dis ʼn geleentheid vir jong, patriotiese en diens-gedrewe burgers om hul passie om ʼn verskil te maak om te skakel in ʼn betekenisvolle loopbaan in die Polisiediens:
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese parlementslid Helen Haines het ook haar tweede been verloor nadat sy Maandag voor haar kiesafdelingkantoor in Wangaratta twee keer deur ‘n voertuig getref is. Haar linkerbeen is Maandag afgesit en haar regterbeen vanoggend. Die beweerde aanvaller, Brendan Nugent, word aangekla van roekelose bestuur wat tot ernstige beserings gelei het, doelbewuste ernstige besering en die aanranding van ‘n staatsamptenaar. Haines se man, Phil, sê haar toestand is steeds bedenklik, maar bestendig:
# Rugby: Die Stormers het die haker JJ Kotzé se voorgestelde skorsing van drie weke verwerp. Hy het ‘n rooikaart ontvang in verlede naweek se Kampioenebeker-wedstryd teen Bristol Bears in Kaapstad vir ‘n gevaarlike duikslag op die skrumskakel Kieran Marmion terwyl hy sy doellyn verdedig het. Die Stormers het 49-12 gewen. ‘n Vuilspel-hersieningskomitee het weer na die voorval gekyk en die skorsing aanbeveel. Die saak sal nou deur ‘n volle regspaneel oorweeg word, met ‘n virtuele verhoor later vandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-78-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-121-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….