Nuus 11:00
BULLETIN 21 October 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Maagdermsiektes tref 109 studente op die Rhodes Universiteit se kampus
# Trump sê Zelensky moet ‘n ooreenkoms met Rusland aangaan om die oorlog te beëindig
# En rugby: Die Stormers verwerp JJ Kotzé se voorgestelde skorsing van drie weke
# Die Rhodes Universiteit in Makhanda in die Oos-Kaap het 109 gevalle van maagdermsiekte in 15 van die studentekoshuise op die kampus aangemeld. Soortgelyke gevalle kom ook in ander dele van Makhanda voor. Die Stad Tshwane loop ook onder ‘n uitbreking deur, met 408 gevalle wat in Bronkhorstspruit aangeteken is. Die universiteit se woordvoerder, Olwetu Gwanya, sê die aangemelde gevalle word gemonitor en die betrokke studente ontvang mediese sorg:
# Suid-Afrika se groot munisipaliteite ervaar ernstige finansiële druk weens ‘n onvermoë om skuld te bestuur, vervalle infrastruktuur en ‘n gebrek aan langtermyn administratiewe beplanning. Die Paternoster Group City Risk Monitor het die land se agt metro’s asook Mbombela en Polokwane beoordeel. Vier risikogebiede is ondersoek: finansiële volhoubaarheid; infrastruktuur en dienste; die ontwikkelingsomgewing; en politieke risiko. ‘n Stigtersvennoot, Lawson Naidoo, het aan Polity.org gesê strukturele en finansiële tekortkominge beperk ekonomiese groei en verswak beleggersvertroue:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê Graan SA se regstappe teen die Johannesburgse Aandelemark se besluit oor sojaboonpryse is nodig om boere te beskerm. Graan SA het die Hooggeregshof in Johannesburg versoek om die beurs se besluit van Julie te hersien om slegs een geografiese verwysingspunt in die land te gebruik vir die bepaling van sojaboon-termynpryse. Hulle voer aan die prysstelsel het ’n uitwerking op boere se inkomste en winsgewendheid. Bennie van Zyl van TLU SA steun die gebruik van verskeie verwysingspunte, sodat pryse verskillende vervoerkoste weerspieël.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê Oekraïne moet die oorlog met Rusland beëindig. Die verhouding tussen Oekraïne en Amerika het versuur nadat Amerika ingestem het om Russiese diesel te koop. Trump kritiseer die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, en sê dis tyd dat Kiëf ʼn nuwe president kry en iemand anders namens die land onderhandel. Rusland se president, Vladimir Putin, het Oekraïne in 2022 ingeval. Trump sê die oorlog moet stop:
# Rugby: Die Stormers het die haker JJ Kotzé se voorgestelde skorsing van drie weke verwerp. Hy het ‘n rooikaart ontvang in verlede naweek se Kampioenebeker-wedstryd teen Bristol Bears in Kaapstad vir ‘n gevaarlike duikslag op die skrumskakel Kieran Marmion terwyl hy sy doellyn verdedig het. Die Stormers het 49-12 gewen. ‘n Vuilspel-hersieningskomitee het weer na die voorval gekyk en die skorsing aanbeveel. Die saak sal nou deur ‘n volle regspaneel oorweeg word, met ‘n virtuele verhoor later vandag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-113-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….