Nuus 07:00
BULLETIN 21 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Uganda gaan handels- en beleggingsbande versterk
# Die EFF eis dat die burgemeester van Tshwane bedank oor die Bronkhorstspruit-waterkrisis
# En Brittanje begin ‘n verdedigingsmissie om Saoedi-Arabië te beskerm
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, beklemtoon die behoefte om bilaterale verbintenisse in tasbare ekonomiese voordele te omskep. Hy het gister in Pretoria deelgeneem aan die derde sitting van die Gesamentlike Kommissie vir Samewerking tussen Suid-Afrika en Uganda. Lamola sê die twee lande het goeie geleenthede om samewerking in vervoer, mynbou, energie, landbou, landbouverwerking, vervaardiging, infrastruktuur, finansiële dienste, telekommunikasie en toerisme uit te brei. Hy verwelkom ook Uganda se klem op ekonomiese diplomasie en om diplomatieke betrokkenheid in tasbare handels- en beleggingsgeleenthede te verander:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer vandag sy Mediumtermyn-begrotingsrede en die DA sê Suid-Afrika het beter besteding, vinniger hervorming en groter aanspreeklikheid nodig. Ekonome verwag dat Godongwana ‘n verbetering in die land se fiskale posisie sal aankondig met die begrotingstekort wat moontlik kleiner is en die primêre begrotingsoorskot wat beter as verwag is. Die DA sê hy sal die begroting op vyf belangrike punte beoordeel: stabiliseer staatskuld, stel ʼn fiskale reël as wet, bestee geld op die regte dinge, bespoedig hervorming en maak mislukte munisipaliteite reg.
AfriForum sê intussen die begrotingsrede moet verligting vir verbruikers insluit te midde van hemelhoë brandstofpryse, asook ander maatreëls wat ekonomiese groei bevorder. Louis Boshoff van AfriForum sê Godongwana moet onthou die hoë belastinginkomste kom steeds uit die sak van ʼn kleiner wordende groepie betalers, daarom moet die regering groter waardering vir die land se belastingbetalers toon:
# Die EFF eis die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, moet bedank weens die waterkrisis in Bronkhorstspruit, wat na bewering 408 mense siek gemaak het. Die party beweer water uit die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg is vir drie weke sonder chloor voorsien, wat inwoners gevaar gestel het. Hulle het ook strafregtelike klagte teen die burgemeester en die stadbestuurder ingedien, en ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aanhangig gemaak. Die EFF dring aan op die rampverklaring en die vestiging van ’n dringende taakspan.
# Brittanje gaan RAF Typhoon-straalvliegtuie na Saoedi-Arabië stuur om die land teen aanvalle van die Iran-gesteunde Houthi’s te beskerm wat dui op groter betrokkenheid in die streek se konflik. Dit volg ná Houthi-aanvalle op die Saoedi-hoofstad, Riaad, en op energie-terreine aan die land se kus. Die Britse minister van Verdediging, Wes Streeting, sê die RAF Typhoon-vliegtuie sal verdedigende lugafweer-operasies oor Saoedi-Arabië uitvoer, en help om Saoedi-stede, die burgerlike bevolking en belangrike nasionale infrastruktuur teen Houthi-aanvalle te beskerm:
# Rugby: Die losvoorspeler Hacjivah Dayimani is dalk terug in die Stormers se span vir Saterdag se Verenigde Rugby-kampioenskapswedstryd teen die Scarlets in Kaapstad. Hulpafrigter Dawie Snyman sê Dayimani behoort beskikbaar te wees, nadat hy verlede naweek se oorwinning oor die Bristol Bears weens harsingskudding misgeloop het. Dit is steeds onseker of kaptein Ruhan Nel sal speel, aangesien hy met ‘n ligte kuitbesering sukkel, alhoewel sy onttrekking teen Bristol grootliks ‘n voorsorgmaatreël was. Die Stormers oorweeg ook of hulle sommige Springbokke moet laat rus voor die internasionale rustyd in November. Die span sal na verwagting later vandag aangekondig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-54-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-117-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 111-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….