Nuus 06:00
BULLETIN 21 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê swak waterbehandeling mag nie lewens in gevaar stel nie
# Hyundai herroep 253 Tucson-voertuie weens lugsakke
# En krieket: Bavuma se meesterlike honderdtal laat die Proteas se kanse herleef
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê die Nasionale Waterkrisis-komitee sal aandag gee aan die waterkrisis in Bronkhorstspruit, Tshwane, waar kraanwater as onveilig vir menslike gebruik verklaar is ná ‘n uitbreking van maagdermsiektes. Tydens ‘n ANC deur-tot-deur-veldtog in Daveyton, Ekurhuleni, het Ramaphosa om verskoning gevra vir die siektes en beklemtoon swak waterbehandeling mag nie lewens in gevaar stel nie. Hy sê die komitee werk aan oplossings en vordering word binne dae verwag:
# Die SA Suikerrietkwekersvereniging doen ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die suikerbelasting in vandag se mediumtermyn-begrotingsrede te skrap, aangesien dit die druk op plaaslike suikerprodusente verhoog. Higgins Mdluli van die organisasie sê produsente sukkel met swaar gesubsidieerde suikerinvoere en onsekerheid rondom Tongaat Hulett. Mdluli waarsku die heffing het bygedra tot werksverliese en kan kleinskaalse boere verder bedreig. Hy pleit vir die afskaffing om plaaslike suikerverkope te help herstel en landelike lewensbestaan te beskerm.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het om veiligheidsredes 253 Hyundai Tucson NX4-voertuie herroep, wat verlede jaar regoor Suid-Afrika verkoop is. Die herroeping volg na kommer dat die sensors vir kantbotsinglugsakke in sommige voertuie nie aan die korrekte spesifikasies voldoen nie. Phetho Ntaba van die kommissie sê Hyundai sal diagnostiese toerusting gebruik om te bepaal of die korrekte sensors geïnstalleer is en of die lugsakstelsels aan veiligheidstandaarde voldoen:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het bewerings verwerp dat Oekraïners sterf omdat Amerika intelligensie van Kiëf terughou. Die VSA het na bewering ‘n groot deel van die intelligensie wat gedeel is, stopgesit, en ook wapens geblokkeer wat ingevolge die Voorkeurlys van Vereistes vir Oekraïne verkoop is. Verlede week het Starshield die spoed van mobiele eenhede beperk. Dit het Kiëf se vermoë ingekort om inkomende hommeltuie af te skiet of hommeltuigaanvalle met ‘n medium reikafstand in Russies-besette gebiede te ontplooi. Rubio het die aantygings as “skandalig” bestempel:
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma het die Proteas op die derde reënonderbreekte dag van die tweede toets teen Australië in Gqeberha in ‘n posisie geplaas om te wen en die reeks gelykop te maak. Hy het ‘n indrukwekkende 179 lopies van 334 balle aangeteken, ‘n vennootskap van 132 lopies met Marco Jansen gedeel, en ‘n Suid-Afrikaanse rekordvennootskap van 183 lopies om die agtste paaltjie saam met Simon Harmer. Die Proteas het hul eerste beurt op 425 vir nege verklaar. Teen uitskeityd was Australië op drie vir een; 422 lopies agter Suid-Afrika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 110-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Finland se nasionale uitsaaier lok groot gehore met ’n 24-uur-regstreekse uitsending waarin ma-honde en hul baba’s gevolg word. Die program met die naam Pentulive is nou in sy sesde seisoen en volg hierdie keer vir Hilkka, ‘n Lagotto Romagnolo, en haar werpsel van ses. Hierdie Italiaanse ras met sy krullerige pels is tradisioneel gebruik om knolswamme te soek, danksy ‘n uitsonderlike reuksin. Die hondjies is op 10 Oktober gebore en sal verfilm word totdat hulle in Desember na hul nuwe huise vertrek. Die jongste seisoen het na slegs ses dae reeds 6,6-miljoen besoeke geregistreer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….