Nuus 18:00
BULLETIN 20 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beplan om ‘n afvaardiging na Amerika te lei om kunsmatige intelligensie beter te verstaan
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waarsku teen ongeregistreerde dwelm-behandelingsentrums
# En, ‘n Oostenrykse fietsryer sterf in doe Wes-Kaap ure ná ‘n laaste oproep aan sy vrou
# President Cyril Ramaphosa beplan om volgende maand ’n afvaardiging na Silicon Valley in Amerika te lei vir samesprekings met senior uitvoerende hoofde in die bedryf vir kunsmatige intelligensie. Die afvaardiging sal regeringsverteenwoordigers, akademici, sakelui, navorsers en studente insluit. Ramaphosa sê lande wêreldwyd worstel met die vinnige vooruitgang van K-I en die toenemende invloed daarvan op die samelewing, die ekonomie en die openbare lewe. Hy sê die doel van die besoek is om te ondersoek hoe die land K-I kan benut, terwyl daar terselfdertyd teen die gevare daarvan gewaak word.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waarsku teen die toenemende aantal ongeregistreerde behandelingsentrums. Dit volg op bewerings van mishandeling en vernederende hantering van mense by ‘n vermeende onwettige behandelingsentrum in Siyabuswa, Mpumalanga. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê mense wat hulp soek vir middelmisbruik het die reg op veilige, professionele en deernisvolle sorg, en hulle weerloosheid mag nooit uitgebuit word nie:
# ‘n Oostenrykse fietsryer is op die N2 naby Swellendam in die Wes-Kaap dood, slegs ure nadat hy met sy vrou oor sy reise deur Afrika gepraat het. Die 72-jarige Rudolf Köberl-Labenbacher was Woensdag op pad na Heidelberg toe hy ongeveer vier kilometer buite Swellendam deur ‘n voertuig getref is. Hy het vir sy vrou, Hertha, vertel hoe baie hy haar mis en gesê hy hoop om ‘n manjifieke sonsondergang te sien. Die Suid-Afrikaanse polisie het haar later in Wene geskakel om haar in te lig dat hy dood is. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
# Mianmar se militêre-gesteunde regering sê koning Charles het twee boeke en ‘n verseëlde diplomatieke brief aan die voormalige leier, Aung San Suu Kyi, gestuur. Amptenare het dit gister afgelewer en seldsame foto’s van die 81-jarige Nobelpryswenner is vrygestel. Sy word sedert die militêre staatsgreep in 2021 aangehou. Haar seun, Kim Aris, vewelkom die gebaar maar waarsku die regime kan dit gebruik om die indruk te skep dat alles normaal verloop. Die gesin het geen onafhanklike manier om haar gesondheidstoestand te bevestig nie.
# Gholf: Die deelname van die huidige Amerikaanse Ope-kampioen, Wyndham Clark, aan die Nedbank-uitdaagtoernooi in Noordwes in Desember is bevestig. Hy sal aansluit by sy landgenoot en tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen, Bryson DeChambeau, asook die Engelsman Justin Rose, wat die toernooi in 2013 gewen het. Die toernooi begin op 3 Desember by die Gary Player-buiteklub by Sun City. Player, wat as gasheer vir die toernooi optree, sê hulle sal voortgaan om wêreldgehalte-talent te lok. Daar is vanjaar prysgeld van 98-miljoen-rand op die spel, waarvan die wenner 19,7-miljoen-rand sal ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-646-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-124-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 110-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….