Nuus 17:00
BULLETIN 20 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana vir brandstofverligting in begrotingsverklaring
# Die Staatsdiensvakbond sê Fannie Masemola se terugkeer bied ‘n belangrike geleentheid om die SAPD-leierskap te herstel
# En, rugby: Kwagga Smith is volgens berigte op pad terug na Suid-Afrika nadat hy sy loopbaan in Japan beëindig
# Rise Mzansi sê die Nasionale Tesourie moet die brandstofheffing hersien en verligting bied aan verbruikers en ondernemings wat geknou word deur stygende koste. Die party meen wêreldwye ekonomiese onsekerheid en hoër oliepryse vererger Suid-Afrika se lewenskostekrisis. Mabine Seabe van Rise Mzansi vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die mediumtermyn-begrotingsverklaring te gebruik om brandstofkoste aan te pak, plaaslike ondernemings teen wêreldwye handelsdruk te beskerm en sukkelende munisipaliteite te ondersteun:
Intussen vra ActionSAook verligting van brandstofheffings en daadwerklike optrede teen onwettige ekonomiese bedrywighede. Matthew George van die party sê die regering kan dit bekostig nadat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens meer inkomste as verwag ingevorder het. George sê onwettige handel ontneem die land van werksgeleenthede en belastinginkomste en beloop sowat 15-persent van die bruto binnelandse produk. Hy vra ook ‘n driejaar-bevriesing van aksynsbelasting op tabak en alkohol.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die herinstelling van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, kom op ‘n tydstip waar openbare vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens uiters min is. Masemola is in April geskors na strafregtelike klagtes wat verband hou met sy beweerde versuim om moontlike tenderbedrog in die SAPD te voorkom. Die aanklagte is in September weens onvoldoende bewyse teruggetrek. Die vakbond-woordvoerder, Claude Naicker, sê gemeenskappe eis polisiëring wat doeltreffend, aanspreeklik en deursigtig is:
# Minstens vier Palestyne is in Gaza in Israelse aanvalle dood. Plaaslike gesondheidsbeamptes sê onder die dooies is ‘n egpaar wat gesterf het toe hul woonstel in Gasa-stad getref is, asook ‘n 17-jarige seun wat naby Khan Younis doodgeskiet is. Nog ‘n persoon is in die voorstad Zeitoun in Gasa-stad dood. Die Israelse weermag sê hy het ‘n militante persoon in Gaza geteiken, maar het nie kommentaar gelewer op die sterftes wat na bewering deur die skietery veroorsaak is nie. Sedert die skietstilstand ‘n jaar gelede begin het, is meer as een-duisend-500 Palestyne in Israeliese aanvalle dood.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith is volgens berigte op pad terug na Suid-Afrika na die beëindiging van sy kontrak met die Japannese klub Shizuoka BlueRevs. Die klub het sy vertrek vanoggend aangekondig na ‘n onderlinge ooreenkoms. Die 33-jarige Smith het in 2018 na Japan verhuis nadat hy die Leeus verlaat het. Die Bulle se hoofafrigter, Johan Ackermann, het bevestig hy stel in Smith belang. Hy wil ook die dienste bekom van die Bok-haker Malcolm Marx, wat tans vir Kubota Spears in Japan speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-360-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 111-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….