Nuus 16:00
BULLETIN 20 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwys na beperkings op sosiale media te midde van ‘n mediavryheidsdebat
# Trump se steun daal tot ‘n nuwe laagtepunt voor die middeltermyn-verkiesing
# En krieket: Bavuma en Jansen lei die Proteas se terugvegpoging op die derde dag in Gqeberha
# President Cyril Ramaphosa het vrae gevra oor beperkings op sosiale media tydens besprekings oor mediavryheid. Hy het op ‘n herdenking van “Swart Woensdag” in Johannesburg die belangrikheid van onafhanklike media beklemtoon om die regering tot verantwoording te roep. “Swart Woensdag” herdenk die apartheidsregering se optrede teen anti-apartheidspublikasies in 1977. Ramaphosa het kommer uitgespreek oor verkeerde inligting en aanlyn teistering wat op joernaliste gemik is:
# Die afpersing- en geldwasserysaak teen die sakeman van Mpumalanga, Joe “Ferrari” Sibanyoni en drie mede-beskuldigdes is tot April volgende jaar uitgestel in die Landdroshof in Delmas. Die groep het na bewering tydens ‘n padbouprojek in die provinsie ‘n sakeman afgepers vir beskermingsgeld van meer as twee-miljoen-rand. Die staat voer aan getuies en ‘n ondersoekbeampte is geïntimideer en gedreig. Die verdediging vra verslapte borgtogvoorwaardes, insluitend maandelikse aanmelding by die polisie. Die landdros moet nog daaroor beslis.
# Die landbou-organisasie TLU SA is gekant teen Vrystaat Landbou se stigting van ‘n nuwe Rooivleisforum. Woordvoerder Zelda Brits sê ‘n afsonderlike struktuur wat landwyd produsente werf, kan onsekerheid skep en die Rooivleisprodusente-organisasie verswak. Brits sê produsente behoort hul verbruiksgoedere-organisasies te ondersteun, leiers tot verantwoording te roep en verandering van binne aan te vuur en nie nuwe liggame te stig nie. Sy waarsku verdeeldheid sal die rooivleisbedryf benadeel:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se goedkeuringsyfer het tot ‘n rekordlaagtepunt van 31-persent gedaal, minder as drie weke voor die middeltermyn-verkiesing. ‘n Nuwe opname van Reuters en Ipsos toon slegs 35-persent van geregistreerde kiesers sal vir die Republikeine stem, vergeleke met 47-persent wat die Demokrate steun. Stygende brandstofpryse en kommer oor die ekonomie dra by tot groeiende ontevredenheid rondom Trump se prestasie. Die verkiesing sal bepaal watter party die Kongres beheer. ‘n Oorwinning vir die Demokrate kan dit vir Trump moeiliker maak om sy politieke agenda deur te voer.
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma en die veelsydige Marco Jansen het Suid-Afrika se terugvegpoging gelei op die derde dag van die baie nat tweede toets teen Australië in Gqeberha. Die Proteas het hulle eerste beurt op 95 vir vyf hervat nadat baie min spel moontlik was op die eerste twee dae. Wiaan Mulder het toe sy paaltjie verloor voor Bavuma en Jansen hulle sewendepaaltjie-vennootskap begin bou het. Dit is eers 132 lopies later beëindig toe Jansen Scott Boland se vyfde slagoffer geword het met sy telling op 85. Suid-Afrika was met teetyd op 318 vir sewe, met Bavuma op 125.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-421-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….