Nuus 13:00
BULLETIN 20 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die weiering van Sibiya se borgtogaansoek
# Die Verkiesingskommissie ontvang meer as 700 klagtes oor verkiesingsinhoud
# En inwoners van Alberta verwerp ‘n referendum oor onafhanklikheid en bly deel van Kanada
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die besluit om borgtog te weier aan die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, stem ooreen met waarvoor die staat gepleit het. Woordvoerder Kaizer Kganyago sê die staat het ‘n sterk saak gestel. Sibiya word in die Randburgse Landdroshof in Gauteng aangekla van verkragting, die seksuele gereedmaking van ‘n minderjarige en mensehandel. Kganyago sê die vervolgingsgesag is gereed om die saak voort te sit indien Sibiya teen die borgtogbeslissing appelleer:
# Die Verkiesingskommissie het meer as 700 klagtes ontvang oor verkiesingsverwante inhoud voor volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing. Die meeste hou verband met plasings op X. Hoofverkiesingsbeampte Sy Mamabolo sê sommige behels die ongemagtigde gebruik van foto’s deur kunsmatige intelligensie geskep, maar het nog nie die verkiesingsomgewing noemenswaardig ontwrig nie. Die OVK het ‘n ooreenkoms met Google, Meta, Microsoft, TikTok en Moxii Africa gesluit om waninligting te bekamp. Mamabolo sê oortredings kan lei tot boetes van 200-duisend-rand, tronkstraf van vyf tot tien jaar of die deregistrasie van kandidate of partye.
# Die GOOD-party vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om môre brandstofprys-verligting aan te kondig in sy mediumtermyn-begrotingsverklaring. Die party sê dit sal die uitwerking van die wêreldwye brandstofkrisis versag, inflasie in toom hou en druk op rentekoerse verminder. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die geopolitieke onbestendigheid wat brandstofpryse skerp laat styg het, toon geen teken van afname nie. Hy sê Godongwana moet dus ‘n omvattende hersiening van die algemene brandstofheffing aankondig:
Nuus uit die buiteland:
# Die olieryke provinsie Alberta gaan deel bly van Kanada nadat inwoners ‘n referendum oor onafhanklikheid verwerp het. Hulle is in die nie-bindende stemming gevra of hulle die huidige status wil behou of met ‘n regsproses wil begin wat vereis word vir ‘n bindende stemming oor onafhanklikheid. Ses-en-sewentig-persent het gestem ten gunste daarvan om deel van Kanada te bly, terwyl 23,6-persent ‘n referendum oor afskeiding wou hê. Eerste minister Mark Carney sê Alberta het ‘n duidelike keuse gemaak, en nou kan almal vorentoe beweeg met ‘n hernude doelwit voor oë.
# Sokker: Die Hof vir Sportarbitrasie gaan einde volgende maand uitspraak lewer in Senegal se appèlaansoek teen die Afrika-beheerliggaam, CAF, se besluit om die Afrikabeker aan Marokko toe te ken. CAF se appèlraad het beslis dat Senegal die wedstryd verbeur het toe sy span in Januarie se eindstryd in Rabat van die veld gestap het. CAF se direkteur-generaal, Matthieu Reeb, sê bemiddelaars sal volgende maand ‘n volledige beslissing uitreik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-350-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….