Nuus 11:00
BULLETIN 20 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika moet gereedmaak om uit AGOA verwyder te word
# Die Wêreldvoedselprogram sny sy hulp aan 500-duisend gesinne in Gaza weens ‘n befondsingstekort
# En sokker: Wiegman bly tot 2029 aan as afrigter van Engeland se vrouespan
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet gereed maak om van die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika uitgesluit te word. Dit volg nadat die verhouding tussen Washington en Pretoria versleg het. President Donald Trump se administrasie voer aan Suid-Afrika diskrimineer teen minderhede, insluitend wit Afrikaners. Amerika hersien jaarliks lande se bevoegdheid om deel van AGOA te wees, en ‘n besluit oor Suid-Afrika word op 2 November verwag. Ramaphosa waarsku belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark kan ʼn verwoestende uitwerking op werksgeleenthede hê.
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, het die belangrikheid beklemtoon van ondersoeke wat deur aanklaers gelei word om regspleging te versterk en vooruitsigte op suksesvolle vervolgings te verbeter. Hy sê aanklaer-geleide ondersoeke bevorder van sake se vroeë stadiums reeds nouer samewerking tussen aanklaers en ondersoekbeamptes. Mothibi sê dit dra by dat ondersoeke deeglik is, gapings wat bewyse betref uitgewys word, en dossiere behoorlik voorberei word vir die hof. Hy sê beter samewerking reg oor die regstelsel is noodsaaklik:
# Die vakverbond SAFTU is sterk gekant teen die Stad Ekurhuleni se plan om krag by onafhanklike kragverskaffers aan te koop en beskou dit as ʼn vorm van energie-privatisering wat Eskom ondermyn. Die metro het toestemming gekry om twee-duisend-400 megawatt elektrisiteit van onafhanklike kragverskaffers te koop, wat hom oor 20 jaar 36-miljard-rand kan bespaar. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, verwerp die betoog dat aankope by privaat verskaffers noodwendig goedkoper is of beter waarde aan inwoners bied:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram het voedselhulp aan gesinne in die Gazastrook met ongeveer ‘n derde verminder weens ‘n tekort aan befondsing. Dit sal na sowat 500-duisend mense raak. VN-spanne het maandeliks ongeveer 1,6-miljoen mense met voedselpakkette en kontant gehelp sedert verlede Oktober se skietstilstandsooreenkoms tussen Israel en Hamas. Woordvoerder Shaun Hughes sê hulle het dringend 7,425-miljard-rand nodig om tot Maart volgende jaar noodsaaklike bedrywighede in Gaza en die Wesoewer voort te sit:
# Sokker: Sarina Wiegman sal vir nog drie jaar by Engeland se vrouespan aanbly, nadat sy haar kontrak tot die einde van die Europese Kampioenskap in 2029 verleng het. Die 56-jarige Nederlander het in 2021 oorgeneem en die span die volgende jaar na haar eerste groot trofee in dié kampioenskap gelei. Engeland het verlede jaar die titel behou. Hulle het ook in 2023 die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Australië en Nieu-Seeland gehaal, waar hulle teen Spanje verloor het. Engeland speel volgende maand teen Oekraïne in die kwalifiserende wedstryde vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-730-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-132-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….