Nuus 09:00
BULLETIN 20 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s gaan Suid-Afrika se fiskale anker noukeurig ondersoek
# KPMG verwag die Mediumtermynegroting-beleidsverklaring sal wêreldwye onsekerheid weerspieël
# En die Australiese eerste minister vra dat die stygende temperatuur van politieke retoriek afkoel
# Die kredietgraderingsagentskap, Moody’s, sê hy sal die Suid-Afrikaanse regering se ontwerp van sy fiskale anker noukeurig ondersoek, insluitend moontlike uitsonderings wat in die raamwerk vervat is. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting besonderhede aankondig van ‘n amptelike fiskale anker om die regering se lenings en besteding te beperk, wanneer hy môre die mediumtermynbegroting-beleidsverklaring lewer. Moody’s se visepresident, Evan Wohlmann, sê hulle sal ook ontleed hoe vinnig die regering enige afwyking van die anker moet regstel. Die agentskap het Suid-Afrika se krediet-uitkyk na positief aangepas.
KPMG Suid-Afrika sê intussen ‘n beduidende deel van die jaar se verwagte ekonomiese aktiwiteit kan môre moontlik afwaarts aangepas word namate wêreldwye onbestendigheid ‘n voortgesette demper op groei plaas. Itumeleng Nkadimeng van KPMG sê die regering sal na verwagting ‘n primêre oorskot handhaaf, wat die verskil tussen inkomste en uitgawes verteenwoordig, alvorens rentebetalings op skuld in ag geneem word:
# Die DA in Johannesburg sê hy sal aan die Spesiale Ondersoekeenheid skryf en vra dat hy ʼn proklamasie kry om City Power te ondersoek. Dit volg na voortslepende kragonderbrekings wat Bramley, Bramleypark, Raumaraispark en omliggende gebiede raak. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê moontlike nalatigheid, swak vakmanskap en samespanning tussen kontrakteurs en amptenare moet ondersoek word. Sy sê die metro moet ophou om hierdie onderbrekings as geïsoleerde voorvalle te hanteer en die onderliggende oorsake soek:
# Australië se eerste minister Anthony Albanese het politici gevra om die stygende temperatuur van politieke retoriek te temper. Dit volg nadat ʼn onafhanklike parlementslid, Helen Haines, gister buite haar kantoor in Wangaratta raakgery en ernstig beseer is. ʼn Drie-en-veertigjarige man is gearresteer. In 2025/2026 is een-duisend-67 berigte van teistering en dreigemente teen politici in Australië aangemeld teenoor 951 die jaar tevore. Albanese waarsku toenemend vyandige, persoonlike en geweldsretoriek bedreig demokratiese instellings en ontmoedig leierskap:
# Tennis: Die Grand Slam-kampioene Juan Martin del Potro, Ashleigh Barty en Svetlana Kuznetsova is op die Internasionale Tennis-heldesaal se lys kandidate vir die Klas van 2027. Del Potro het in sy uitnemende loopbaan 22 toersege-titels gewen, insluitend sy Amerikaanse Ope-triomf in 2009. Barty, ʼn voormalige wêreld-nommer-een, spog met vier Grand Slam-titels: drie in enkelspel en een in dubbelspel. Kuznetsova is die tweede keer op die lys. Die Rus het tydens sy loopbaan van 15 jaar 18 WTA-toertitels opgeraap, insluitend twee Grand Slam-enkelspeltitels.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-982-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….