Nuus 16:00
BULLETIN 19 Oktober 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering oorweeg maatreëls om die brandstofprysdruk te verlig
# Mbeki verwerp bewerings van geheime ooreenkomste om apartheid-era generaals te beskerm
# En rugby: Die Stormers beplan om hulle Springbokke te laat rus voor November se vier toetse
# President Cyril Ramaphosa sê die regering oorweeg tans maniere om die druk van stygende brandstofpryse op verbruikers te verlig. Hy het tydens die Bana Pele-leiersberaad in Sandton, Johannesburg, egter gewaarsku alle verligtingsmaatreëls moet noukeurig oorweeg word teen die uitwerking daarvan op die staatskas en die land se reserwes. Ramaphosa sê enige verlaging in brandstofpryse sal deeglike begrotingsoorwegings verg en die regering kan nie oorhaastig ‘n besluit neem nie:
# Oudpresident Thabo Mbeki sê bewerings dat hy geheime samesprekings met generaals uit die apartheidsera gevoer het om hulle teen vervolging te beskerm, is ‘n versinsel. Mbeki het voor die Khampepe-kommissie getuig hy het wel met veiligheidsmag-generaals vergader wat wou hê oudpresident FW de Klerk moes voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie se Amnestiekomitee getuig. Mbeki hou die Nasionale Vervolgingsgesag verantwoordelik vir vertragings in die vervolging van apartheid-era misdade:
# ‘n Misdaadtoneel-deskundige het in die Kaapstadse Landdroshof getuig die hotelkamer waar Anele Tembe en haar kêrel, die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes, tuisgegaan het was in ‘n wanordelike toestand. Die geregtelike doodsondersoek fokus op die omstandighede rondom Tembe se dood nadat sy in April 2021 van die tiende verdieping geval het. Die ondersoeker het getuig daar was moontlik bloed aan die handdoeke en beddegoed, terwyl krapmerke op AKA se liggaam gesien is. Nog ‘n getuie het aan die hof gesê die misdaadtoneel is ontwrig nadat talle mense die gebied betree het.
Nuus uit die buiteland:
# Bangladesj eis antwoorde van Saoedi-Arabië nadat twee van sy burgers tereggestel is sonder om die regering vooraf in te lig. Die man en vrou is verlede week in Mekka tereggestel nadat hulle skuldig bevind is aan wat owerhede in Saoedi-Arabië ‘n onwelvoeglike daad binne ‘n moskee noem. Die aard van die oortreding is egter nie amptelik bekend gemaak nie. Bangladesj het intussen ‘n amptelike diplomatieke skrywe aan die ambassadeur oorhandig waarin hy besonderhede rakende die saak en die geregtelike verrigtinge aanvra.
# Rugby: Die Stormers beplan steeds om sommige van hul Springbokke in die komende weke te laat rus. Die toetsspelers is ingespan in die afgelope twee tuisoorwinnings oor die Haaie en Bristol Bears, maar die Bokke het rus nodig voor volgende maand se vier Nasieskampioenskapstoetse in Europa. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê hy moet die Junior Bok-stut Ollie Reed in die volgende twee wedstryde speeltyd gun, terwyl die Bokke Sacha Feinberg-Mngomezulu, Damian Willemse en Paul de Villiers almal ‘n blaaskans nodig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-503-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-162-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….