Nuus 14:00
BULLETIN 19 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suliman Carrim se borgtogaansoek word uitgestel
# Masemola wag op die Madlanga-kommissie se verslag om aanspreeklikheid in die Polisiediens te versterk
# En tennis: Die Shanghaise Meesterskampioen en naaswenner behaal hulle hoogste wêreldranglysposisies
# Die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, se borgtogaansoek is vanoggend in die Pretoriase Landdroshof uitgestel tot volgende Woensdag. Hy is Donderdag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng in hegtenis geneem, kort voor hy na Dubai sou vlieg. Carrim staan tereg op aanklagte van versuim om voor die Madlanga-kommissie te verskyn en bedrog, wat verband hou met beweerde onreëlmatighede in die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes. Ondersoekers het intussen sy retoerkaartjie en woonadres bevestig. Carrim bly in aanhouding in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.
Nasionale kommissaris Fannie Masemola sê intussen die polisie sien uit na die Madlanga-kommissie se finale verslag en aanbevelings oor hoe aanspreeklikheid versterk en tekortkomings hanteer kan word. Hy het gepraat op sy eerste dag terug nadat sy skorsing opgehef is. Masemola sê die aanbevelings sal hopelik help om die nodige hervormings binne die organisasie te bevorder. Hy sê aanspreeklikheid en hervorming in die diens is noodsaaklik om openbare vertroue in die polisie te versterk:
# Die vakverbond COSATU sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se mediumtermyn-begroting kom in ‘n tydstip waar werkers onder beleg is. Werkloosheid het tot ʼn gevaarlike vlak van 43,8-persent gestyg en die ekonomie groei teen ʼn skamele 1,2-persent. Godongwana lewer Woensdag die begroting in die Parlement. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê dit moet ʼn moedige stimuluspakket vir werkskepping en groei insluit, en verligting bring deur tien-miljard-rand uit die Sentrale Energiefonds se Gelykmakingsfonds beskikbaar stel:
# Owerhede in KwaZulu-Natal is op soek na die bestuurder en eienaar van ‘n wegholvragmotor wat in sewe huise vasgejaag het in Umlazi. Die vragmotor, sonder ‘n bestuurder, het gisteraand teen die Prince Mcwayizeni-pad in die V-afdeling afgetuimel en ‘n spoor van verwoesting gesaai. Die provinsiale Departement van Vervoer se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê drie mense wat getref is, is tans in die hospitaal:
# Tennis: Die Spanjaard Alejandro Davidovich Fokina het sy beste wêreldranglysposisie van 13 behaal nadat hy die Shanghaise Meesterstoernooi in China gewen het. Hy het sy landgenoot Rafael Jodar in die eindstryd verslaan vir die grootste titel van sy loopbaan. Jodar, wat puik vaar in sy eerste ATP-seisoen, het ook opgeskuif na sy beste posisie van elfde en kan steeds kwalifiseer vir die jaareindtoernooi in Turyn. Die Italianer Jannik Sinner bly nommer een, terwyl Novak Djokovic van Serwië vier plekke gedaal het tot twaalfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-520-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-165-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….